Plan sal druk op weiding verlig, sê ministerie

‘n Buitelandse diereregte-organisasie is warm onder die kraag oor 723 wilde diere wat die Namibiese regering vir droogtehulp gaan skiet.
 
Ellanie Smit
 

Terwyl internasionale kritiek opbou teen Namibië se besluit om 723 wilde diere van kant te maak om wildsvleis vir droogtehulp te voorsien, het die Amerikaans-gebaseerde diereregte-organisasie, Mense ter ondersteuning van die etiese behandeling van diere (Peta), hom ook teen die “wrede voorstel” uitgespreek.

Die senior visepresident van die organisasie, Jason Baker, het in ’n brief aan die Namibiese eerste minister, Saara Kuugongelwa-Amadhila, gesê die organisasie en geaffilieerde organisasies het wêreldwyd meer as nege miljoen lede en ondersteuners wat ontsteld is dat Namibië van wilde diere sondebokke maak om oplossings te vind vir ingewikkelde probleme wat strategiese langtermynoplossings vereis.

“Die plan is nie net wreed nie, maar ook gevaarlik kortsigtig en sal geen langtermyn-impak op hierdie ingewikkelde probleme hê nie,” lui die brief.

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het onlangs aangekondig dat 262 van die 723 wilde diere wat geïdentifiseer is reeds geskiet is. Dit sal na verwagting meer as 56 000 kg vleis lewer.

Die meer as 700 diere wat van kant gemaak gaan word, sluit in 300 sebras, 100 elande, 100 blouwildebeeste, 83 olifante, 60 buffels, 50 rooibokke en 30 seekoeie.

“Ons doen ’n beroep op Namibië om sy besluit, wat nie sy doelwitte sal bereik nie, te heroorweeg. Dit word wêreldwyd as wreed beskou en om eerder op meer doeltreffende langtermynoplossings te fokus,” het Baker gesê.

Hy het aangevoer met byna die helfte van Namibië se bevolking wat glo honger in die gesig staar, sal vleis van ’n paar honderd diere nie die probleem oplos nie.

“Blykbaar word trofeejagters toegelaat om van die diere teen ’n fooi te skiet. Ons hoop jy stem saam dat hierdie krisistyd nie ’n geleentheid vir Namibië moet wees om sulke optrede te oorweeg nie,” het Baker beklemtoon.

PROBLEEM NIE GETAKEL NIE

Hy het bygevoeg dat die veronderstelde voordele van die doodmaak van etlike honderde wilde diere nie swaarder weeg as die negatiewe gevolge nie en dat die besluit “nie op wetenskap gegrond is nie”.

“Die skiet van hierdie diere kan eerder lei tot wanbalanse en lyding vererger, aangesien elke spesie ’n belangrike rol in ekosisteme speel.”

Die ministerie het egter gesê dat die uitdunning van wild ook sal help om huidige weidingsdruk en waterbeskikbaarheid te bestuur deur wildgetalle in sommige parke en gemeenskaplike gebiede te verminder waar hierdie getalle beskikbare hulpbronne oorskry.

Die ministerie sê dat dit sal help om die negatiewe impak van droogte op wildbewaring in beide nasionale parke en gemeenskaplike gebiede te versag.

Peta het ’n beroep op Namibië gedoen om met internasionale organisasies saam te werk om strategieë te ontwikkel wat die onderliggende kwessies takel sonder om hom tot grootskaalse uitdunning van wild te wend.

republikein@republikein.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT