Dit is mediumgrootte diere soos ietermago’s en likkewane wat groot genoeg is om aan die elektriese drade te raak en terselfdertyd klein genoeg is om daarin vasgevang te raak. FOTO'S Dr. Darren Pietersen

Nuwe navorsing toon dat geëlektrifiseerde heinings op plase dikwels vir die vrektes van veral veldlikkewane verantwoordelik is, gevolg deur steenbokke, ietermago’s, skilpaaie en gompoue.

Volgens bevindinge wat onlangs in die African Journal of Wildlife Research deur dr. Darren Pietersen van die Universiteit van Pretoria gepubliseer is, is reptiele die mees algemene slagoffer van elektriese heinings, gevolg deur voëls en soogdiere.

Hy het ’n 108 km lange geëlektrifiseerde heining oor ’n tydperk van bykans vyf jaar bestudeer. Die heining is op die Kalahari Oryx Private Wildsplaas in die Noord-Kaap in Suid-Afrika geleë.

Oor dié tydperk het Pietersen altesaam 782 interaksies tussen wild en die heining aangeteken, waarvan altesaam 213 dodelik was vir die diere.

In vorige studies is daar reeds kommer uitgespreek oor die gevare van elektriese heinings vir skilpaaie en ietermago’s. Ekoloë en bestuurders van bewaringsgebiede sê hulle is lank reeds bewus van die potensiële gevare van geëlektrifiseerde heinings, maar die werklike risiko en bedreiging is nog nooit werklik nagevors nie.

FAKTORE

Pietersen het drie noodsaaklike faktore geïdentifiseer wat die resultaat van ’n dier se interaksie met die heining bepaal, naamlik die dier se grootte, die seisoen asook die tipe verdedigende gedrag wat die dier toon.

Baie klein spesies, soos rotte en akkedisse, kan ongehinderd onder geëlektrifiseerde heinings deurbeweeg. Groter diere kan die draad moontlik beskadig, maar dit gebeur minder dat hulle daarin vasgevang raak of doodgeskok word.

Dit is egter mediumgrootte diere soos ietermago’s en likkewane wat groot genoeg is om aan die elektriese drade te raak en terselfdertyd klein genoeg is om daarin vasgevang te raak.

Pietersen het ook bevind dat die reënseisoen die aantal skokke verhoog het – waarskynlik omdat reptiele en soogdiere dan meer aktief raak. Dit kan ook wees omdat elektrisiteit dan meer geleibaar is.

Hy sê egter skilpaaie en ietermago’s se verdedigingsmeganismes, naamlik om te vries, terug in die dop te trek of op te rol as hulle bedreig voel, beteken hulle bly in kontak met die lewendige drade van ’n geëlektrifiseerde heining.

Beide is diere wat stadig beweeg. Hierdie diere word dan die heeltyd deur die draad geskok totdat hulle eindelik vrek.

Die studie is veral interessant omdat likkewane die meeste doodgeskok is – terwyl dié spesie nooit vantevore beskou is as een waarvoor geëlektrifiseerde heinings ’n risiko inhou nie.

’n Steenbok wat doodgeskok is deur ’n geëlektrifiseerde heining. FOTO'S Dr. Darren Pietersen, Universiteit van Pretoria.

GROTER PRENTJIE

Hierdie navorsing vind aanklank by vorige navorsing oor die impak van elektriese heinings op wild in Afrika.

Vorige navorsing deur Pietersen en ander outeurs raam dat meer as 30 000 reptiele jaarliks deur geëlektrifiseerde heinings doodgeskok word. Hulle skat ook dat tussen 377 en 1 028 ietermago’s jaarliks deur dié heinings doodgeskok word – net in Suid-Afrika.

Dit beteken elektriese heinings is een van die grootste bedreigings vir die spesie wat reeds op die rand van uitwissing staan.

Daar is egter maatreëls in plek om geëlektrifiseerde heinings minder gevaarlik te maak, wat insluit dat die elektrisiteit by tye afgeskakel word. Daar kan ook van slim tegnologie gebruik gemaak word waarmee individuele drade kan afskakel wanneer dit blyk dat ’n dier daarin vasgevang is. Andersins moet die laagste geëlektrifiseerde draad nie laer as 30 cm bo die grond begin nie – wat die meeste reptiele en ietermago’s sal toelaat om ongehinderd onderdeur te kruip.

elvira@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT