Dit is 06:00 in Suider-Afrika, en op die plaas Klawerberg in Namibië is almal reeds in rep en roer.

Medisyne en vitamiene word gesorteer, pyle vir die verdowingsgeweer word voorberei en die helikopter word gereed gemaak – vir Wildlife Vets Namibia is dit net ’n doodgewone oggend.

Hulle taak is om verskeie wildsbokspesies uit die helikopter op dié kommersiële plaas uit te kies en te verdoof, dan te meet, in te ent, van identifikasieplaatjies te voorsien en somtyds in nuwe kampe te hervestig.

Die veearts dr. Ulf Tubbesing en Mariska Bijsterbosch van Wildlife Vets Namibia is verantwoordelik vir mediese vrae oor wilde diere in Namibië: van behandeling en operasies, tot inentings, vervoer, uitvoere en hervestigings wat dikwels oor landsgrense plaasvind.

Op Klawerberg ondersteun die organisasie tans die eienaar en Suid-Afrikaanse wildboer, Charl du Toit, met die voorbereiding van uitgesoekte bulle vir ’n veiling wat in ’n paar weke gehou word.

Du Toit, wat Silent Valley Stud Game Breeders in Suid-Afrika besit, en sy bestuurder op Klawerberg, Willie Pienaar, wil onder andere by dié veiling vier swartwitpense, drie elande, drie koedoes, vier rooibokke, twee gemsbokke, twee witstert-, twee gestreepte en twee goue wildebeeste opveil.

Veilings soos hierdie is ’n belangrike deel van kommersiële wildboerdery in Suider-Afrika en maak winsgeoriënteerde wildversorging en teling moontlik, terwyl inheemse wildspesies bewaar word.