Ellanie Smit -Kommer heers oor die lae watervlakke van die Choberivier wes van Ngoma, waar dosyne seekoeie moontlik weer in modderpoele gestrand kan raak.

In Augustus 2019 was meer as 60 seekoeie in die vlak water van die Choberivier tussen Namibië en Botswana – wat besig was om weens die droogte op te droog – gestrand.

’n Noodboorgat is suksesvol geboor om water in die poel te pomp, waar die sowat 68 seekoeie in die stadium gestrand was.

Volgens Simone Micheletti van die Wild Waters Group en die voorsitter van die Namibian Wetlands Route, was hy Saterdag by die vloedvlaktes. Hoewel die situasie volgens hom nog nie kritiek is nie, moet voorsorg getref word omdat dit in die volgende paar weke wel die geval sal wees.

“Daar is ’n bestaande boorgat wat werk en wat tydens ’n soortgelyke krisis in 2019 geboor is, dit het net ’n pomp en pype nodig,” het hy gesê.

Micheletti sê dit is tans ’n tipiese landskap wat in September of Oktober verwag word, maar wat nou reeds in Maart voorkom.

Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme, Pohamba Shifeta, het ook sy ernstige kommer oor die situasie uitgespreek en gesê die ministerie monitor die situasie.

Hy sê hy het teen die einde van verlede jaar die gebied besoek en was riviervlakke op party plekke reeds so laag dat ’n persoon deur dit kon loop.

Shifeta het egter gemaan dat dit baie gevaarlik is aangesien mense kanse vat en dit gevalle van mens-dier-konflik met seekoeie en krokodille verhoog.

Hy het bygevoeg dat wanneer die vlakke van die rivier so laag raak, wild gewoonlik saamtrek en dit kan verdere probleme veroorsaak aangesien mense en wild om natuurlike hulpbronne soos water meeding.

Hy het egter benadruk dat die ministerie die situasie noukeurig sal monitor om te besluit of water in poele gepomp moet word waar seekoeie gestrand kan raak.

Geen lesings van die Choberivier by die Ngoma-hek was in verlede week se vloedverslag van hidrologiese dienste beskikbaar nie.

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT