Ellanie Smit – Sowat 118 buffels het tydens ’n stormloop Vrydag in die Choberivier verdrink, nadat leeus die diere gejaag het en hulle probeer het om van die Chobe Nasionale Park in Botswana die rivier na Namibië oor te steek.

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het bevestig ’n verslag van ’n buffelstormloop in die gebied van Kabulabula in die Zambezistreek is Vrydag ontvang.

Die ministerie se woordvoerder, Romeo Muyunda, sê die vermoede is dat die voorval in die vroeë oggendure van Vrydag plaasgevind het. Geen berigte is ontvang dat mense tydens die stormloop beseer is nie.

“Dit gebeur natuurlik vir diere wat in groot groepe beweeg en dit is nie die eerste keer dat dit gebeur nie,” het hy gesê.

Muyunda sê beamptes van die bewaringsgebied was op die toneel, terwyl die ministerie ook ’n beampte afgevaardig het om verder ondersoek in te stel.

Simone Micheletti van die Serondela Lodge in die Zambezistreek wat eerste op die toneel was, sê 12 leeus het die buffels Vrydag in die vroeë oggendure gejaag en kon daarin slaag om drie buffels op land te vang. Die res het verdrink en het in die stormloop gevrek.

Volgens Micheletti moet die ministerie nou ’n verklaring uitreik om te sê wat met die dooie buffels gaan gebeur.

“Uit vorige ondervinding word die karkasse in sulke gevalle aan die gemeenskap gegee. Wanneer hulle instem en tevrede is dat die buffels verdrink het en dat daar geen siektes of gesondheidsrisiko is nie, word dit aan die gemeenskap gegee. Maar prosedures moet gevolg word wat deur die ministerie gereguleer word,” het hy verduidelik.

Intussen doen die leeus volgens hom goed danksy die mens-dier-konflikprogram van die Kwando-karnivoorprojek wat lewende hawe in die land beskerm met die kraalprojek wat bestand is teen roofdiere.

Micheletti sê in die verlede het leeus talle koeie in Namibië gevang wanneer hulle van die Chobe Nasionale Park die land inbeweeg het.

“Nou is die beeste veiliger en die boere maak nie meer die leeus dood nie. Die gemeenskap werk saam en waardeer die maatreëls om mens-dier-konflik te bestuur en wat krale insluit wat teen leeus bestand is.”

Volgens hom vaar toerisme goed in die gebied danksy die teenwoordigheid van die leeus en genereer dit ’n inkomste vir bewaringsgebiede en skep dit werksgeleenthede. In 2018 is ’n soortgelyke voorval aangemeld sowat 1 km vanwaar die buffels Vrydag verdrink het.

Toe het sowat 1 000 buffels wat deur leeus gejaag is, probeer om oor die Choberivier van Botswana na Namibië te vlug en het 400 in die stormloop verdrink.

Die Choberivier vloei langs die noordoostelike grens van die Chobe Nasionale Park wat bekend is vir groot teeltroppe olifante, kameelperde en die Afrika-buffel en wat dit ’n groot en gewilde toeriste-aantreklikheid in Namibië maak.   – republikein@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT