Baba Mimi is onlangs in die omgewing van die Huabrivier gebore. FOTO'S VERSKAF

Die toestroming van toeriste na die omgewing van die Ugab- en Huabrivier wek kommer oor die gedragsverandering in woestynaangepaste olifante. Met die doel om etiese en verantwoordelike toerisme in die gebied te bevorder, het die Elephant-Human Relations Aid (EHRA) in samewerking met Tourism Supporting Conservation (TOSCO) ’n slypskool vir veldgidse van omliggende lodges van die Ugabrivier aangebied. Die opleidingsessie wat oor vier dae gestrek het, het ten doel gehad om gidse toe te rus met ’n begrip van die rol wat hulle speel in die beskerming van die olifante en toeriste. Opleiding in noodsaaklike vaardighede in die uitvoer van etiese besigtiging van olifante het ook deel van die slypskool gevorm. Soortgelyke slypskole is ook vir bestuurders van lodges in die omgewing van die Ugab aangebied, terwyl nog een volgende maand vir gidse in die omgewing van die Huab aangebied sal word.

“Die druk van toenemende besoekers aan die gebied en die gevolglike toename in beide private en begeleide olifanttoere, is kommerwekkend. Ons het verskeie voertuie gesien, dikwels meer as drie groot wildbesigtigingsvoertuie, wat op dieselfde tyd agter die olifante aanry en baie naby aan die olifante beweeg sonder om die diere se persoonlike ruimte te respekteer of ’n ontsnaproete vir hulself of die olifante oop te laat,” sê Rachel Harris, besturende direkteur by EHRA. Volgens haar het die bevolkings van alle bekende woestynaangepaste olifante beduidend weens mens-olifant-konflik (HEC) afgeneem.

Workshop training

Workshop training - field work

Die opleiding van die gidse volg etiese gidsregulasies en is daarom noodsaaklik om die langtermyn oorlewing van die inwonende woestynaangepaste olifantbevolking te verseker. Olifante word dikwels gewaar by lodges en kampplekke waar hulle in asdromme, koelbokse, yskaste en sleepwaentjies grawe op soek na vrugte, groente en brood.

“Die olifante het gevolglik begin om voertuie te nader met die doel om kos in die hande te kry wat besoekers saam met hulle gebring het. Dié gedrag kan tot sterftes lei,” waarsku Harris. Om die moontlike konflik tussen mense en die olifante te bestuur, gaan EHRA aan lodges en kampplekke waarskuwings van die diere se satellietbande stuur wanneer die olifante in die nabyheid is om personeel en gaste te beskerm.

Verskeie lodges en geriewe in die omgewing het ook ingestem om saam te staan om ’n etiese gedragskode vir besigtigingstoere van die olifante af te dwing.

Met Paasnaweek wat môre begin het Harris ’n beroep op lede van die publiek, plaaslike inwoners en toeriste gedoen om by die regulasies van die etiese gedragskode te hou. Dit sluit in:

  • Behou altyd ’n veilige afstand van tussen 70 en 80 meter van die olifante.
  • Wanneer jy stop om na die olifante te kyk, doen dit op so ’n manier dat jy maklik kan wegry indien die olifante jou voertuig nader.
  • Moenie langer as 15 minute stop nie.
  • Nie meer as drie voertuie tydens enige besigtiging nie.
  • Moenie enige kos saam in die voertuig neem tydens ’n besigtigingstoer nie.
  • Moenie toelaat dat jou gedrag die olifante pla nie. Indien hulle slaap, moet die diere die ruimte gegee word om hiermee voort te gaan.
  • Kampeerders moenie hul kampe in die rivierbedding opslaan nie.
  • Moenie met passasiers agter op ’n oop bakkie ry nie.
  • Bly ten alle tye in jou voertuig.
  • Kampeerders moet hul kos wegbêre en enige vrugte en groete by die logde of kampplek se ontvangs vir veilige bewaring inhandig.

“Ons het ingestem om almal deel te wees van dieselfde radionetwerk sodat die gidse met mekaar kan praat om hul ritte te beplan. As hulle bv. weet Ehra is reeds by die olifante en daar is geen ander voertuie nie, weet hulle om net 15 minute te wag totdat hulle ’n besigtiging op hul eie sal hê,” verduidelik Harris.

“Ons kommunikeer dit ook aan toermaatskappye en praat met verhuringsagentskappe van voertuie.”

Volgens Harris het lodges in die omgewing ook ingestem om ’n inligtingstuk aan gaste verskaf wat op hul eie die olifante wil besigtig. Sy het gidse en besoekers na die gebied gemaan om nou ekstra versigtig te wees ná die onlangse geboorte van die olifantkalfie Mimi in die omgewing van die Huabrivier.

Enige oortreding van die etiese kode kan by Ehra of Tosco aangemeld word. Nog inligting is op die webtuiste www.ehranamibia.org beskikbaar. – republikein@republikein.com.na

Workshop training manual

Gidse van lodges in die omgewing van die Huab en Ugab het opleiding in die etiese besigtiging van die olifante ontvang.

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT