Ellanie Smit – Jagters voel verneder deur beskuldigings van anti-jaggroepe wat meestal hul rol as vernietigend definieer.

Dit volgens die president van die Namibiese Professionele Jagtersvereniging (Napha), Axel Cramer, wat gesê het die beoefening van etiese en volhoubare jag vir bewaringsdoeleindes is deurslaggewend vir die behoud van Namibië se natuurlike skoonheid en biodiversiteit.

Die land se unieke biodiversiteit getuig van die delikate balans van sy ekosisteme, het hy bygevoeg.

Die praktyk van bewaringsjag, wanneer dit eties en volhoubaar toegepas word, speel ’n deurslaggewende rol in hierdie balans, het Cramer gesê.

Hy het verlede week by die vereniging se algemene jaarvergadering gepraat en opgemerk dat dit nie net oor die jag of die doodmaak gaan nie, maar oor “soveel meer”.

“Dit gaan oor bewaring, die hele ervaring, gemeenskapsontwikkeling en die behoud van ’n nalatenskap vir ons kinders.”

ROL VERANDER

Die Napha-president het erken dat jagters se rol verander het van jag vir kos, om mens-wild-konflik te bestry of om wildbevolkings te bestuur, omdat hulle eenvoudig daarvan hou om te jag.

’n Aspek wat egter baie aandag en fokus geniet het, is die benutting van wild om inkomste te genereer, het hy gesê.

Cramer het benadruk dat etiese jagpraktyke diep gewortel is in die beginsels van bewaring.

“Dit verseker dat wildbevolkings gesond en volhoubaar is, wat bydra tot biodiversiteit.”

Die inkomste wat uit trofeejag gegenereer word, is noodsaaklik vir bewaringspogings, teenstropery-inisiatiewe en die opheffing van gemeenskappe, het hy bygevoeg.

STRENG REGULASIES

Hy het erken dat bewaringsjag deur streng regulasies en etiese oorwegings gedryf moet word.

“Ons moet verseker dat dit positief tot wildbewaring bydra en plaaslike gemeenskappe bevoordeel.”

Dit behels noukeurige beplanning, wetenskaplike navorsing en ’n diepgaande begrip van die ingewikkelde balans van ons ekosisteme, het hy gesê.

Volgens hom is Namibië se benadering tot bewaring, insluitend beheerde jag, wêreldwyd as ’n sukses erken.

“Ons het aansienlike toenames in wildgetalle gesien, insluitend spesies wat eens op die rand van uitsterwing was.”

Hy het verder aangedring op ’n fokus op opvoeding en bewusmaking.

“Wanneer die hele wêreld na ons kyk, moet ons hulle opvoed oor die belangrikheid van volhoubare jagpraktyke en hoe dit tot bewaring bydra. Ons moet ’n nuwe generasie natuurbewaarders bevorder wat die waarde van ons natuurlike erfenis verstaan en verbind is tot die beskerming daarvan.”

republikein@republikein.com.na