Inwoners sê hulle betaal dikwels ’n duur prys om saam met wilde diere te leef, wat onder meer hul gewasse verwoes. FOTO VERSKAF

Inwoners van die vyf nedersettings rondom die Bwabwata Nasionale Park asook lede van die Kavango Open Africa Route (Koar) is ontsteld oor planne om lodges in onderskeidelik die Mahango- en Buffalo-kerngebied te vestig.

Belangegroepe het gedreig om die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC) te nader, aangesien die planne glo in direkte teenstelling met die amptelike bestuursplan van die park is, terwyl hulle vra of enige impakstudie in verband hiermee gedoen is – juis omdat die Mahango-park onlangs as ’n Ramsar (vleilande van internasionale belang)-gebied verklaar is.

Dit kom terwyl die gemeenskappe wat aan die park grens uit die Kamutjonga-, Divayi-, Bagani-, Tapahutha-, Divava en Shutu-nedersetting sê hulle word nou by die groot ontwikkelingsplanne uitgesluit, ten spyte daarvan dat hulle reeds sedert 2002 probeer om sélf ’n kampeerplek vir toeriste ten bate van die gemeenskap binne die park te stig.

Koar, wat reeds vir 15 jaar lank al erken word as die amptelike verteenwoordiger van die toerismebedryf in die Kavangostreke, sê boonop dat so ’n ontwikkeling binne ’n reeds “oorvol” toerismegebied, nie net hulle ondernemings skade sal berokken nie, maar ook hul toekomsvooruitsigte sal verwoes.

Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme is verlede Woensdag met vrae genader, maar het tot dusver nog geen antwoorde verskaf nie en net gesê daar word steeds aan die navrae gewerk.

Sonsondergang oor die Kavangorivier. FOTO’S WIKIMEDIA COMMONS

ADVERTENSIE

Dit kom nadat die ministerie in Oktober ’n advertensie in die plaaslike media gepubliseer het vir tenderaansoeke vir konsessies vir beide die Kwetchi Lodge asook die Kavango South Lodge, beide in Bwabwata in onderskeidelik die Mahango- en Buffalo-kerngebied.

Die advertensie is kort daarna gekanselleer en toe glo opnuut uitgereik. Die sluitingsdatum vir tenderaansoeke is eerskomende Vrydag.

Volgens die advertensie is die konsessies geoormerk om tot voordeel van die Hambukushu-gemeenskap te strek, alhoewel die gemeenskappe wat rondom die park woon ontken dat hulle enigsins deur die Hambukushu Raad van Trustees verteenwoordig word of aandeel daaraan het.

Die konsessies sal sekere ontwikkelingsregte aan die houer daarvan bied – ’n eksklusiewe reg om ’n 25 kamer-, 50 bed-tentkamp by Kwetchi teen die rivier te besit en te bestuur asook eksklusiewe regte om ’n klein kiosk, openbare toilette en ’n piekniekplek by Mahango se hek te hê. Die Kavango South Lodge-konsessie sal die houer die reg gee om ’n luukse kamp te skep asook die eksklusiewe reg om ’n kampeerplek te ontwikkel en te bestuur met basiese toiletgeriewe en meer.

GEMEENSKAP

Die voorsitter van die komitee van die Kamutjonga-bewaringsgebied, Alex Muhero, en sy sekretaris, Richard Thinyembo, is van mening dat die ministerie en ander rolspelers die projek van die gemeenskap wil afneem.

Dit terwyl hulle glo sedert 2002 reeds daaraan werk om so ’n kamp in die park te kan opsit. Eers is vir hulle gesê hulle moet ’n bewaringsgebied vestig, wat hulle toe gedoen het.

Muhero sê hulle het al die nodige stappe gevolg, net vir die Hambukushu Tradisionele Owerheid om keer op keer toestemming vir die vestiging van die kampeerfasiliteit te weier.

Muhero en Thinyembo beweer dit is dieselfde tradisionele owerheid wat nou met hulle idee vorendag kom onder die vaandel van die sogenaamde Hambukushu Raad van Trustees, wat nie die gemeenskap verteenwoordig nie. Hulle beweer lede van die raad bestaan slegs uit die tradisionele hoofman, Erwin Mbambo, se naaste familie en vriende en nie een van hulle woon self teenaan die beskermde gebied nie.

Muhero het beklemtoon die regte vir ’n kamppeerplek kom hulle toe omdat hulle oor die afgelope drie dekades gedurig geraak word deur die park se wilde diere. Hulle het reeds telkemale van hul vee, gewasse en selfs menselewens verloor.

Die Bwabwata Nasionale Park is bekend vir sy wilde diere wat volop is.

PRIVATE TOERISMEBEDRYWE

Intussen bied Koar ook sterk teenkanting teen die projek, met die voorsitter, Mark Paxton wat in ’n brief aan die ministerie op 25 Oktober en weer op 9 November sterk beswaar aangeteken het, maar sê hulle ontvang geen reaksie nie.

“Dit blyk ’n onderduimse en heeltemal onwettige proses te wees wat na korrupsie ruik,” het Paxton gesê.

Dit glo omdat die nodige prosedures nie gevolg is nie, in direkte teenstelling met amptelike bestuursplanne vir die park is en dat daar ook geen insette vanaf belangegroepe uit die omgewing gevra is nie.

Hulle is bekommerd oor die park wat glo reeds bedreig word deur onwettige bewoners en sê so ’n ontwikkeling sal die voortbestaan van bestaande lodges bedreig omdat dit reeds ‘n oorvol toerismegebied is.

Paxton het gevra waar in die Wysigingswet op Natuurbewaring nr. 3 van 28 Junie 2017, nr. 6344, word so ’n groot toerisme-ontwikkeling toegelaat?

elvira@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT