Die Afrika-pikkewyn wat net in Namibië en Suid-Afrika voorkom, wankel op die rand van uitsterwing. In 2015 het die aantal broeipare op 5 800 gestaan, teenoor vanjaar se minder as 4 000. Kenners het egter dié getal as “optimisties” beskryf.

“Hulle wankel op die rand van uitsterwing,” sê die Namibiese seevoëlkenner Jessica Kemper. Kemper het sedert 1999 haar loopbaan aan Namibiese seevoëls gewy, maar het intussen afgetree. Volgens haar vind betroubare tellings van die Afrika-pikkewyne vir sowat vyf jaar reeds nie plaas nie. Statistieke van tellings wat wél geneem is, voorspel egter ’n donker toekoms vir Afrika se enigste pikkewynspesie.

“Hul getalle neem beslis af. Dit het begin afneem in die 1950’s toe formele tellings begin het. Hul bevolkingsgetalle het waarskynlik lank voor dit afgeneem. In die vroeë 2000’s het dit gestabiliseer, maar weer die afgelope paar jaar begin daal,” sê Kemper.

Volgens haar dra verskeie faktore by tot krimpende bevolking van Afrika-pikkewyne – die grootste die verlies van ’n hoëgehalte voedselbron.

“Die hoofrede is die gebrek aan kwaliteit-prooi. Dit is veronderstel om sardyne te wees wat ryk is aan energie. Weens die oorbevissing in die suidelike Namibiese waters waar dié pikkewynkolonies gevestig is, het sardyne verdwyn. Die pikkewyne moes gevolglik oorgaan na die Bearded Goby wat arm is aan voedselbronne. Dit beteken die pikkewyne moet baie harder werk om die energie te behou wat hulle nodig het,” het Kemper verduidelik.

Ander faktore wat tot die krimpende getalle bydra, sluit in oliestortings, die agteruitgang van broeiplekke, asook die groeiende robbevolking.

“Daar is gewoonlik ’n paar robbe wat klaarblyklik genot daaruit put om seevoëls dood te maak. Moet asseblief nie die aanname maak dat alle robbe seevoëls doodmaak nie, maar een rob uit hierdie minderheid kan skade aanrig.”

Die Afrika-pikkewyn het ook van 2018 tot 2019 deurgeloop onder ’n uitbreking van voëlgriep by Halifax-eiland naby Lüderitz, waar hulle in Namibië voorkom.

“Siektes sal waarskynlik ’n groter faktor word aangesien voëlgriep nou om die wêreld reis en nuwe variante ongeveer elke jaar voorkom.”

Kemper maan die verlies van die Afrika-pikkewyn sal die breër ekosisteem omvergooi.

“Hulle is een van die top mariene roofdiere en is dus ’n noodsaaklike deel van die mariene ekosisteem. Dit is soos ’n kaarthuis – as jy een uithaal, val die res plat. Wanneer ’n spesie uitgesterf het, is hy weg. Dit is ons verantwoordelikheid om dit te voorkom,” het sy gemaan.

Aanlyn petisies dra ook minimaal by tot bewaringspogings.

“Daar is te veel en mens raak geïrriteerd daarmee. Van hulle het meriete, maar daar moet baie meer moeite gedoen word. Ons moet begin om van kleins af kinders op te voed oor bewaring.”

Vroeër is berig Namibiese vissersmaatskappye moet met robbe meeding vir visbronne. In Suid-Afrika het die buurland se minister van bosbou, visserye en die omgewing, Barbara Creecy, ’n verbod van tien jaar geplaas op visvang naby Dassen-, Robben-, Dyer-, St. Croix- en Voëleiland – sowel as Stony Point – waar kolonies van die Afrika-pikkewyn voorkom.

Die besluit sal na ses jaar van implementering en dataversameling hersien word.

irene@republikein.com.na