Etosha Nasionale Park gaan te gou te warm word vir renosters, volgens navorsers. Foto Francoise Steynberg

Kommer heers oor die impak van klimaatsverandering en aardverwarming op die renosters in die Etosha Nasionale Park, omdat dié park glo baie gouer te warm gaan wees vir dié bedreigde diere om te oorleef.

Volgens die verslag “Exploring Temperature and Precipitation Changes under Future Climate Change Scenarios for Black and White Rhinoceros Populations in Southern Africa”, sal renosters nie die hoër temperature kan oorleef wat vir Suider-Afrika voorspel word nie.

Die verslag is in die wetenskapstydskrif Biodiversity gepubliseer.

Wetenskaplikes sê stroperysindikate is nie die enigste bedreiging vir die voortbestaan van renosters nie, maar ook klimaatsverandering. Die Suider-Afrikaanse streek se klimaat is weens aardverwarming besig om baie vinnig te verander.

Volgens die wetenskaplikes het renosters ‘n gebrek aan sweetkliere en hulle koel hulself af deur in waterpoele te plons en skaduwee onder bome te vind.

Tot dusver is net op die teenstropery van renosters gefokus, met min navorsing wat gedoen is op die gevolge wat klimaatsverandering op reeds kwynende getalle kan hê.

Prof. Timothy Randhir van die departement omgewingsbewaring by die Universiteit van Massachusetts Amherst in Amerika en student Hlelowenkhosi Mamba, ‘n wetenskaponderwyser van die Free Evangelical Assemblies High School in Eswatini, is die navorsers. Hulle waarsku die klimaatmodelle wat hulle in hul navorsing gebruik het, dui daarop dat temperature in Suider-Afrika nog verder gaan styg, terwyl reënvalpatrone ook verander.

Volgens die wetenskaplikes se studies sal swart- en witrenosters die veranderende reënvalpatrone kan oorleef, maar nie die stygende warmer temperature nie.

Die hoof-outeur van die verslag, Mamba, sê sy en Randhir het veral op vyf groot nasionale parke in Namibië, Suid-Afrika, Zimbabwe, Kenia, Botswana, Tanzanië en Eswatini gefokus.

Volgens die navorsers sal die Etosha Nasionale Park die swaarste getref word, asook die Hlane Nasionale Park in Eswatini.

Die wetenskaplikes se gevolgtrekking is dat renosters nie so sensitief is vir die verandering in reënval nie, maar dat dié bedreigde diere wel nie in ‘n temperatuurstyging van 4°C sal kan oorleef nie.

Hulle maan renosterbewaarders om op die uitkyk wees vir stres onder renosters. Daar moet onder meer voorsiening gemaak word vir genoeg watergate waarin renosters kan afkoel en die bewaring van bome om koelte te verskaf.

Migrasieroetes is volgens die navorsers belangrik sodat renosters uit die warm na koeler gebiede kan beweeg.

Die veearts en stigter van die Rhino Rescue Project, dr. Charles van Niekerk, sê die regerings sal beleid oor die uitvoere van renosters in ag moet neem weens die noodsaaklikheid van migrasie na koeler gebiede.

Volgens die Interregeringspaneel oor klimaatsverandering het Afrika die afgelope eeu ‘n temperatuurstyging van 0,5 °C tot 2 °C ervaar.

Voorspellings dui aan dat die temperatuur van dié vasteland weens die toenemende hoeveelheid kweekhuisgasse in die atmosfeer teen 2055 met tot 2,8 °C sal styg en teen 2085 met tot 4,6 °C. As die temperatuur met 4,6 °C styg, sal renosters reeds uitgesterf het. – francoise@nmh.com.na

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT