In wat as ’n verstommende deurbraak beskryf word, het wetenskaplikes die wêreld se oudste, bewoonde termiethope langs die Buffelsrivier in Namakwaland ontdek.
Die termiethope, wat ’n verbysterende 34 000 jaar oud is, herskryf ons begrip van prehistoriese lewe, klimaat en koolstofberging.
Die termiethope word deur die suidelike stropertermiet, Microhodotermes viator, bewoon, verduidelik die hoofskrywer van die navorsingstudie, dr. Michele Francis, ’n buitengewone senior dosent by die departement grondkunde in die fakulteit agriwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die universiteit se departemente van grondkunde en aardkunde het Dinsdag ’n verklaring uitgereik.
“Onlangse radiokoolstofdatering het aan die lig gebring dat hierdie termiethope baie ouer is as wat voorheen bekend was.
“Die hope word steeds deur termiete bewoon, en die radiokoolstofdatering van die organiese koolstof binne hierdie hope toon dat sommige so ver as 34 000 jaar terugdateer. Dit is ouer as die ikoniese grotskilderye in Europa en selfs ouer as die laaste gletser-maksimum, toe groot ysplate ’n groot deel van die Noordelike Halfrond bedek het.
‘OUDSTE AKTIEWE TERMIETHOPE’
“Dit wissel van 13 000 tot 19 000 jaar, terwyl die karbonaat of koolsuursout tot 34 000 jaar terugdateer. Dit maak die Buffelsrivierheuwels die oudste aktiewe termiethope wat tot dusver met organiese en anorganiese koolstof gedateer is. Die vorige oudste bewoonde hope van verskillende spesies uit Brasilië is 4 000 jaar oud.
“Om dit in perspektief te stel: Hierdie termiethope was al antiek toe mammoete nog op die aarde gewandel het. Gedurende die laaste gletser-maksimum sowat 20 000 jaar gelede, het massiewe ysplate dele van Noord-Amerika, Europa en Asië bedek. Hierdie hope was toe reeds duisende jare oud en verskaf ’n lewende argief van omgewingstoestande wat ons wêreld gevorm het,” sê Francis.