Ellanie Smit – Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme gaan 40 krokodille verkoop met die doel om mens-wild-konflik te verlig.

Die krokodille is almal volwasse krokodille en sal nie groter as drie meter wees nie, het die ministerie aangekondig.

Romeo Muyunda, die woordvoerder van die ministerie, het gesê die ministerie het sedert 2019 kompensasie van meer as N$2,3 miljoen betaal vir verliese wat deur krokodille veroorsaak is.

Dit sluit N$575 000 in vir 195 gevalle van veeverlies, N$140 000 vir 14 gevalle waarin mense beseer is en meer as N$1,6 miljoen vir mense wat in krokodilaanvalle dood is.

Volgens hom het Namibië oor die jare ’n merkwaardige herstel van wildbevolkings ervaar as gevolg van die land se goeie bewaringsmetodes.

Dit het egter gelei tot ’n toename in mens-wild-konflik, aangesien die meerderheid van die land se wild buite nasionale parke rondbeweeg, het Muyunda gesê.

Hy het bygevoeg die noordoostelike streke Kavango-Wes, Kavango-Oos en Zambezi ervaar voorts krokodilaanvalle op mense en hul vee.

Muyunda het gesê die besluit om die krokodille te verkoop het ten doel om hierdie voorvalle te minimaliseer en die impak van konflik met krokodille op gemeenskappe te versag.

“Dit is ook in ooreenstemming met ’n aanbeveling by ’n onlangse konferensie oor wildkonflikbestuur.”

TENDERPROSES

Die krokodille sal deur ’n tenderproses verkoop word. Belangstellendes word versoek om hul skriftelike finansiële aanbiedinge teen 17 Julie by die ministerie in te dien.

Die tenders moet in verseëlde koeverte wees wat die prys per individuele dier aandui. Tenderspesifikasies sal in die plaaslike media geadverteer word, het Muyunda gesê.

Hy het bygevoeg diegene wat die krokodille wil uitvoer, moet amptelike bewyse hê dat die onderskeie bewaringsowerhede van daardie land hulle sal toelaat om dit te doen.

Die krokodille sal onder volle toesig van die ministerie gevang word en die koper sal vir die koste van die vangproses verantwoordelik wees.

Alle verwante aktiwiteite – insluitend toetsing vir siektes sowel as enige nodige sorg nadat hulle gevang is – is op die koper se koste. Kopers moet ook bewys dat hulle geskikte habitatte vir krokodille het.

republikein@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT