Toergids: Gebrek aan wild vir leeus
Ná die onlangse noodlottige aanval deur ‘n leeuwyfie, word avontuurlustiges aangeraai om eerder by aangewese kampplekke, verkieslik onder die bestuur van gemeenskappe, te kampeer.
Francoise Steynberg
Die bewaringsorganisasie Tourism Supporting Conservation (Tosco) het ná twee aanvalle deur die woestynaangepaste leeuwyfie, Charlie, gesê die oorlewing van dié leeubevolking hang af van ’n delikate balans tussen wildlewe, gemeenskappe en toerisme.
Charlie het die lewe van die bekende sakeman Bernd Kebbel (59) op die Vrydagoggend van 30 Mei geëis en twee dae later ’n groep Suid-Afrikaanse toeriste in dieselfde omgewing in die Hoanibrivier aangeval, wat gelukkig nie beseer is nie.
Die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme het Charlie as ’n probleemdier verklaar en die bekende leeunavorser, dr. Philip Stander van die Woestynleeu-bewaringstrust het haar op Sondagoggend 1 Junie verdoof en uitgesit.
Hy het ’n geliefde leeuwyfie en in Kebbel ’n vriend en een van die trust se grootste ondersteuners verloor.
“Hierdie besluit volg op voortdurende monitering deur personeel van die ministerie, wat aan die lig gebring het dat die dier gewoond geraak het [aan mense] en ’n voortgesette bedreiging vir beide gemeenskapslede en toeriste inhou,” lui die ministerie se verklaring.
Tosco sê ’n omgewingsbewaarder het sy lewe verloor en ’n ikoniese leeuwyfie, ’n afstammeling van die legendariese Vanishing Kings, is van kant gemaak.
“Die woestynaangepaste leeubevolking simboliseer beide die skoonheid en die uitdagings van bewaring in hierdie streek.
“Hul oorlewing in een van die wêreld se moeilikste omgewings is buitengewoon, maar dit hang af van ’n delikate balans tussen wildlewe, gemeenskappe en toerisme,” sê Tosco.
‘ONGEREGULEERDE TOERISME’
“Hierdie tragedie is ’n pynlike herinnering aan hoe broos daardie balans is. Alhoewel hierdie spesifieke [Kebbel]-familie bande met bewaring gehad het, sien ons ’n breër tendens van ongereguleerde toerisme – insluitend kampering in die wildernis – wat beide mense en wildlewe in gevaar stel.”
Tosco maan dat leeus in tye van prooi-skaarste meer onvoorspelbaar kan word en groter risiko’s kan neem.
“Ons dring daarop aan dat reisigers by aangewese, verkieslik kampplekke onder die bestuur van gemeenskappe bly.”
Tosco meen hierdie kampplekke is steeds in die wildernis en boonop bied dit gemeenskappe ’n langtermyn-aansporing om leeus te beskerm.
“Dis ’n tragedie vir die betrokke familie, vir ons woestynaangepaste leeus, diegene wat hard werk om hulle te beskerm en vir Namibië se toerisme-nalatenskap.”