Ek het vir 19 jaar navorsing oor die Kalahari luiperds gedoen en het in 2018 die boek Written in the Sand geskryf en die kamp by Loffiesdraai in 1984 gevestig. Written in the Sand bevat opgesomde inligting oor die luiperds van die Kalahari maar vertel nie wat ‘n luiperd elke nag doen nie. Omdat ek 26 luiperds vir meer as 2000 km tree vir tree met behulp van San spoorsnyers gevolg het, bevat my dagboeke gegewens oor wat hulle op 158 nagte gedoen het.
INLEIDING
Die essensie van die Kalahari lê ewe veel in wat jy in jou siel voel as wat jy met jou sintuie waarneem, en het tot talle mites en volksverhale aanleiding gegee. Dit is ‘n immer veranderende wêreld waarby die plante, diere en mense wat daar voorkom aangepas het, maar dit was nie altyd ‘n dorsland van rooi sand nie en het eens groot riviere en mere gehad.
Wetenskaplike navorsing is ‘n mosaïek van die werk van verskillende mense en gee opgesomde gegewens sonder om die fyner detail waarop dit berus te verskaf. Hierdie boek weerspieël die doen en late van 26 luiperds in 158 nagte in die Kalahari. Dit is gegrond op gegewens in my dagboeke wat ek in 19 jaar met wisselende besoeke van sowat twee weke elk op verskillende tye van die jaar versamel het deur die spore van luiperds tree vir tree vir 185 dae en 2608 km met spoorsnyers van San herkoms te volg.
Uittreksel uit die boek
Paring
Tydens hofmakery jaag die luiperds mekaar rond, rol op bossies en graspolle en sproei-urineer dikwels totdat die wyfie voor die mannetjie gaan lê en hulle herhaaldelik kopuleer. Luiperd 15 in Hoofstuk 6 het ook gepaar.
Luiperd 1
Ons kry in Januarie die spore van ‘n mannetjie wat by Gharagab water gedrink het.
Die eerste nag
Hy klim in ‘n kameeldoringboom in ‘n duinstraat, lê op twee duine, lê onder ‘n vaalkameeldoringboom Vachellia haemotoxylon op ‘n duin, en krap die stam van ‘n kameeldoringboom Vachellia erioloba in ‘n duinstraat met sy naels.