Oorlewing van woestynleeus in die weegskaal

Bewaarders gryp in teen afname

Die Obab-trop woestynaangepaste leeus in die Kunene-streek ly honger. Foto Ingrid Mandt

Die voortbestaan van Kunene se woestynaangepaste leeus is in gedrang met die bevolkingsyfer wat nou skaars ongeveer 50 is.

Die kenner en stigter van die bewaringsorganisasie Desert Lions Human Relations Aid (DeLHRA), mnr. Izak Smit, sê: “Gegewe ons waarnemings oor die afgelope 10 tot 11 jaar skat ons nou die totale bevolking van die woestynaangepaste leeus op slegs tussen 45 en 55. Dis laer as die vorige beraming van 65 tot 75 van verlede jaar. Dit beklemtoon hul onsekere en kwesbare posisie en die kwynende waarskynlikheid van hul oorlewing of herstel.

“Ons nuutste beraming is dat slegs tussen 45 en 55 woestynaangepaste leeus in hul natuurlike habitat in die westelike Kunenestreek oor is. Dis ’n drastiese afname van ongeveer 95 tot 105 so drie jaar terug!” sê hy.

“Die droogte in die Kunenestreek waar dié leeus bly, is nou in sy tiende jaar en slegs ligte verligting is ervaar in sekere klein gebiede waar min en sporadiese reën verlede jaar geval het,” sê hy.

Min van die reën was in die leeus se habitat, voeg hy by. “Gegewe die neiging tot vrektes van die woestynleeus oor die afgelope paar jaar, en die stagnering in voortplanting weens stres, swak toestande en verhoogde vrektes van welpies, is dit ’n hartseer feit dat die getalle geleidelik nog verder afgeneem het,” sê hy.

“Dié leeus is so spesiaal omdat hulle die laaste vrylopende leeus in die wêreld is wat buite ’n beskermde gebied voorkom, en hulle deur evolusie in die oudste woestyn ter wêreld aangepas het om te oorleef. Hulle gedrag, tropdinamika, jaggewoontes en opportunisme, asook fisiese aanpassings (meer atleties in bouvorm) is verskillend as dié van hul savanna-eweknieë.

“Die rol wat die leeus in ’n uiters sensitiewe ekologie speel en die versekering van die behoud van die sterkste gene is onmisbaar. Die afhanklikheid van ander kleiner roofdiere, voëls en aasdiere van die leeus is ook duidelik sigbaar in die ekologie,” brei hy uit.

Faktore soos sterftes as gevolg van mens-leeu-konflik in die bewaringsgebied, vergiftigings, verskuiwing van sterwende leeus weens hongerte, versteurde dinamika, geslagswanbalans en laer reproduksie as gevolg van stres en toenemende vrektes van welpies asook toenemende steriliteit as gevolg van inteling, dra by tot die knaende afname in die populasie van die woestynleeus, volgens Smit.

Onlangs is die vyfde vergiftigingsvoorval sedert Oktober 2021 aangemeld, sê hy van ’n wyfie wat ’n vergiftige sebrakarkas geëet het. Sy het halsband ‘9a’ gedra. Satelliethalsbande bied die Lion Rangers die geleentheid om leeubewegings oor langafstande te monitor.

Die Lion Rangers is kenners as dit kom by satelliethalsbande aan leeus vasmaak. Foto lionrangers.org

Die Lion Rangers het wildwagters met spesiale opleiding en toerusting om konflik tussen mense en leeus op gemeenskaplike grond te bekamp.

VELDGEBASEERDE WERK

Op DeLHRA se sosialemediaplatforms is verlede week gesê hierdie taakmag – saamgestel deur die samewerking tussen die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, Integrated Rural Development and Nature Conservation (IRDNC), dr. Flip Stander se Desert Lion Conservation-organisasie, Tourism Supporting Conservation (Tosco) en die Universiteit van Minnesota, is ontplooi om na die Obab-trop om te sien.

Die Lion Rangers se leierskap sluit in die medestigter van IRDNC, mnr. Russel Vinjevold; die karnivoorkenner van die omgewingsministerie, mnr. Uakendisa Muzuma; medestigter en navorser mnr. John Heydinger, Stander en programadministrateur me. Mathilde Brassine.

Brassine is ook by Tosco betrokke. Hul navorsing en ingryping by mens-leeuskonflik help gemeenskappe en die regering om die woestynaangepaste leeus van noordwes-Namibië meer doeltreffend te bestuur.

“Hoe leeus mense beïnvloed, en die wyse waarop kontak tussen mense en leeus plaasvind, is beide ’n bewaringsen menslike bestaanskwessie. Ons werk is veldgebaseer en maak staat op grondvlaktegnieke; slegs gemeenskapgebaseerde uitkomste sal volhoubaar wees,” luidens hul webwerf.

Individuele leeus word geïdentifiseer, hetsy vir hul sentrale rol in die bevolking se sosiale dinamika, of omdat hulle waarskynlik konflik veroorsaak.

’n Opgeleide en gesertifiseerde veearts verdoof dié individu, wat die leeu se veiligheid verseker en sodat die halsband behoorlik aangesit kan word. Sodra dit geaktiveer word, verskaf die halsbande satellietliggings aan die Lion Rangers.

“Die Obab-trop swerf in die sentraal westekant van Palmwag en die Skedelkus rondom die Unyabriviermond,” brei Smit uit, en noem van onlangse foto’s wat ’n kwesbare verhongerde leeumannetjie wys wat hulle kon slaag om te red.

So word woestynaangepaste leeus deur kundiges verskuif. Foto Ingrid Mandt

Hy het verlede week sy kommer oor die mannetjie se oorlewing uitgespreek en gesê hy het die ministerie genader oor die Obab-trop se lot. Desert Lion Conservation lys die Obab-, die Hoanib-, die Barab- en die Ugab-trop tussen die bedreigde woestynaangepaste leeugroepe.

Die Obab-trop is tans in die Skedelkus Nasionale Park.

Ondanks die pogings van sekere nieregeringsorganisasies, verloor die leeus die stryd en nader hulle die punt waar hul populasie nie sal kan herstel nie, sê Smit.

“Ons het ’n omvattende plan aan die bewaringsgebiede se bestuur voorgelê asook aan die streekverteenwoordiger van die Kunenegebied. Dit sluit in die skep van beskermde gebiede wat ontwikkel moet word om deur toerisme optimale inkomste aan gemeenskappe te verseker,” sê hy.

BESTUUR OP SAKEBEGINSELS

Volgens Smit sal die plan meebring dat boerderygebiede en gebiede wat vir wilde diere geoormerk is, behoorlik geskei sal word en laasgenoemde statutêre beskerming sal geniet.

“Dit sal belegging in die gebied lok. Parke kan bestuur word in lyn met die konsep van African Parks. Dit sal werkgeleenthede en die welstand van die gemeenskappe in die bewaringsgebied bevorder,” sê hy.

African Parks bestuur reeds nasionale parke in Benin, Sentraal-Afrika Republiek, Tsjad, die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK), die Republiek van Kongo, Malawi, Mosambiek, Rwanda en Zambië.

African Parks ’n niewinsgewende organisasie wat in vennootskap met die regering en gemeenskapsbewaring parke op besigheidsbeginsels bedryf, wat deur skenkings ondersteun word.

Twee ondersteuners, mnre. Bou en Lou Schoonwinkel saam met mnr. Izak Smit in die middel. Foto delhra.org

“Ons eie stappe – soos gesien kan word op ons webwerf en Facebook-blad – is om boere te help om hul kuddes teen leeus te beveilig en vrektes weens mens-dier-konflik te beperk, aangesien dit die grootste bydraende faktor van die leeus se uitsterwing is. Ons help met vergoeding waar deelnemende boere skade ly en gradeer hul krale op. Ons verskaf onder meer beligting, klappers en flitse om roofdiere te verjaag.

“Ander organisasies voorsien satellietnekbande as deel van ’n vroeë waarskuwingstelsel, maar die pogings word weens beperkte hulpbronne belemmer,” sê hy.

augetto@republikein.com.na

Copyright 2022 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT