Stander reageer op noodlottige nag
Waarskuwings aan toergidse oor protokolle rakende die volgafstande van leeus, het op dowe ore geval.
Francoise Steynberg
Leeunavorser dr. Philip Stander van die Woestynleeu-bewaringstrust meen daar heers tans onvolhoubare toerisme-aktiwiteite in die Hoanibrivier wat die voortbestaan van die woestynaangepaste leeus bedreig.
“Die aantal voertuie wat leeus besigtig of soms selfs omring het, het gewissel tussen twee en 12 voertuie. Die gemiddelde afstand gemeet tussen die leeuwyfie Xpl-114 en die naaste voertuig was ’n kommerwekkende 10,6 meter (met 50 m as die minimum afstand wat ’n voertuig toegelaat word om ’n leeu te nader),” het Stander op die trust se webtuiste geskryf.
Dit volg ná die noodlottige nag van 30 Mei toe Bernd Kebbel, die bekende sakeman en ondersteuner van woestynleeunavorsing, deur die leeuwyfie XpL-114, Charlie, aangeval en doodgebyt is. Suid-Afrikaanse toeriste is vroegoggend op 1 Junie ook deur Charlie aangeval en sy is dieselfde dag van kant gemaak.
Stander doen vir meer as 30 jaar navorsing oor die leeubevolking met ’n sleutelnavorsingsfokus wat daarop gemik is om die impak van gereelde toerisme op die gedrag van leeus te meet en om ’n volhoubare vlak van die waarde van leeuwaarnemings deur toeriste te bepaal wat nie die leeus negatief beïnvloed nie.
Hy sê toe die eerste lodges in die Hoanibrivier gebou is, het die trust nou saam met die toeroperateurs gewerk om die prosedures vir hoëgehalte-waarnemings te ontwikkel, wat veilig en volhoubaar is.
Volgens Stander is daar oor ’n tydperk van 20 jaar byna 100 omvattende oudiovisuele opleidingskursusse aan etlike honderde gidse en toeroperateurs gegee. Hy het saam met die lodges, toeroperateurs en personeel van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme veiligheidsprotokolle ontwikkel vir die besigtiging van leeus.
Ná die Covid-19-pandemie, toe toeriste teruggekeer het, is opknappingskursusse gegee en die protokolle hersien, maar is volgens Stander deur toergidse geminag.
“Toergidse het minder respekvol, meer aggressief in hul benadering en minder in ooreenstemming met die missieverklarings van hul werkgewers voorgekom.”
Die leeunavorser sê die belangrikste toeroperateurs in die Hoanibrivier het almal sterk bewaringsboodskappe en hul bemarkingsprofiele spog almal oor deelname en bydraes tot die bewaring van die wildlewe en habitat van hul toerismekonsessiegebiede.