Elvira Hattingh
Tot werkbare alternatiewe vir olifantjag beskikbaar is, is daar geen rede om jagters uit Engeland en elders te keer om dié hulpbronne op ’n volhoubare manier te benut nie.
Dis juis jag wat die bewaring van Afrika se wildlewe asook landelike ontwikkeling ondersteun, meen leiers van plaaslike kommunale bewaringsgebiede. Hulle het hul uitgespreek teen ’n wetsontwerp in Engeland, wat hoop om die invoer van trofeë na dié land te verban.
In ’n artikel getiteld “UK trophy hunting import ban not supported by rural Africans” deur plaaslike bewaringspersoonlikhede, spreek landelike Namibiërs hulle sterk uit teen die voorgenome wetgewing.
Terwyl die voorgestelde verbod op die invoer van jagtrofeë (soos horings en tande) klaarblyklik sterk ondersteuning in Engeland geniet, sal landelike mense buite dié land grense die uitwerking van sulke beleide voel.
“Die opinies van Afrikane in landelike gebiede, word min, indien ooit in hierdie besluitnemingsprosesse gehoor,” is gesê. Die artikel het Vrydag op Mongabay verskyn, ’n aanlyn publikasie wat bewaringsnuus internasionaal versprei.
Dit is deur die navorsers me. Gail Thomson (Resource Africa); Kenneth /Uiseb (Namibië se ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme); me. Rosalia Iileka (Namibië se vereniging van CBNRM ondersteuningsorganisasies – NACSO); me. Hilma Angula (NACSO) en dr. Malan Lindeque (Resource Africa) saamgestel.
OPENBARE VERGADERINGS
Dit volg nadat die Namibiese regering verskeie professionele bewaringspersoonlikhede gevra het om ’n reeks openbare vergaderings hieroor in landelike gebiede aan te bied.
Altesaam 38 kommunale bewaringsgebiede het hieraan deelgeneem. Tussendeur is nog onderhoude met mense oor olifante gevoer. Respondente het gesê hulle verstaan opinies hieroor kan verskil, maar dat diegene wat daaraan dink om die opinies in wetgewing om te skakel, twee keer moet dink.
Verskeie respondente wou weet of kampvegters teen jag gewillig is om ’n alternatiewe stroom van inkomste te verskaf asook praktiese maniere kan bied om mens-olifant-konflik te verminder. “Die respondente trek ’n direkte lyn tussen tasbare voordele wat olifantjag kan inhou (inkomste en vleis) en die gewilligheid van gemeenskappe om olifant-verwante konflik te verdra.
“Verder meen gemeenskappe hulle het die reg om wild te bestuur en te bewaar op die maniere wat hulle goeddink – ’n reg wat hulle nie gewillig vir buitelandse kampvegters sal opgee nie,” het die navorsers gesê.
“Tweedens is die bestuurstelsel, waar die regering deur die uitreiking van kwotas en waaraan gemeenskappe en jagters gehoor moet gee, ’n bewys dat wettige jag ontwerp is met die bewaring van olifante in gedagte.
“Geen van die respondente wou hê al die olifante in hul bewaringsgebiede moet doodgemaak of verwyder word nie, ongeag die skade wat hulle gely het. “Die jag van olifante vir vleis en inkomste sluit dus aan by hul gevoel van trots in hul pogings om die bosreuse te bewaar,” het die navorsers afgesluit.
BEWAARDERS SÊ
Die navorsers beklemtoon die meeste gemeenskapslede was trots daarop om olifante binne hul bewaringsgebiede te hê, hoofsaaklik omdat hulle kan help om dit vir toekomstige geslagte te bewaar en omdat dit ’n bron van inkomste en vleis is.
Olifante rig egter beduidende skade aan gewasse, draadheinings, boorgate en waterinfrastruktuur aan, terwyl daar soms ook menselewens geëis word.