Olifantbevolking op meer as 24 000

Ellanie Smit – Die jongste skattings toon daar is meer as 24 000 olifante in Namibië, met ’n bevolkingsgroeikoers van 5,36% per jaar.

Daar is sowat 160 olifante in private besit in die land.

Namibië se sukses met olifantbewaring kom egter nie sonder uitdagings nie, het Kenneth Uiseb, adjunkdirekteur van wildnavorsing en -monitering by die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, gesê.

Hy het tydens ’n nasionale konferensie oor die bestuur van mens-wild-konflik gesê: “Ons bestuur of bewaar nie olifante om hul getalle te vermeerder nie. Ons is tevrede met die getalle wat ons het.”

Uiseb het bygevoeg dat olifante nou byna oral in die land voorkom en waar hulle ook al gaan, kom hulle in konflik met mense om twee hoofredes: water en kos.

“Ons bevolking het oor drie dekades konsekwent toegeneem terwyl die nasionale olifantverspreiding ook oor die land uitgebrei het.”

Volgens hom neem olifantgetalle oral elders af en is hul verspreiding besig om te krimp.

MEERDERHEID

Die onwettige doodmaak van olifante was ‘n groot probleem in 2015-‘16, maar dit het aansienlik verminder, het Uiseb gesê.

Hy het bygevoeg die grootste deel van Namibië se olifantbevolking kom in die noordoostelike dele van die land voor, en 21 000 olifante kan in Namibië se deel van die Kavango-Zambezi-oorgrensbewaringsgebied (Kaza TFCA) gevind word.

Oor die woestynaangepaste olifante in die Kunenestreek het Uiseb gesê hoewel daar in 1975 sowat 120 olifante was, het hierdie bevolking drasties afgeneem weens stropery, droogtes en ander redes.

“Hierdie is die bevolking waarin die ministerie spesifiek belangstel om bewaringsmaatreëls te implementeer. Hier praat ons van hoe ons die bevolking bewaar sodat hulle in daardie gebied bly, die bevolking lewensvatbaar bly en dat hulle nie uitsterf nie. Teen die tempo wat ons nou gaan en sonder ingryping, kan hulle verdwyn.”

Gebiede wat as episentrums vir mens-olifant-konflik geïdentifiseer is, sluit in rondom Omatjete in die Erongostreek, Kamanjab en Otjikondu, het hy gesê. – republikein@republikein.com.na

Copyright 2023 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT