DIE ONTSTAAN VAN GEORGANISEERDE WILDBOERDERY IN SUID-AFRIKA 1980–2005

‘N OORSIG NÁ 25 JAAR OOR DIE ONTSTAAN EN GROEI VAN DIE EERSTE VERTEENWOORDIGENDE NASIONALE LIGGAAM VIR WILDBOERE

Jan L van der Walt

  1. AGTERGROND

1.1 Kommersialisering van wild

Geïsoleerde wildvangste, wildboerdery en -oespraktyke het sedert die 19de eeu voorgekom.‘n Enkele onderneming in Kroonstad het reeds in 1866 sowat 157 000 swartwildebees- en blesbokvelle uitgevoer en in 1877 is reeds ‘n wildveiling te Kroonstad gehou. 7 000 kilogram biltong is in 1907 van ‘n enkele spoorstasie in die Waterberg af uitgevoer.

Mense soos Burt van der Walt het in die 1900’s wild in die destydse Noord-Transvaal gevang vir plaaslike en oorsese bemarking. Die De Beers-mynmaatskappy het ook so vroeg as die jare veertig wild aangeskaf vir teeldoeleindes op hulle myngrond.

1.2 Eerste moderne wildveilings

Kommersiële wildboerdery in Suid-Afrika het ‘n lang pad gekom sedert die eerste wildveilings in die jare sestig. ‘n Wildveiling is in 1974 op die plaas van mnr Koos Giliomee van Hoedspruit gehou. Die destydse Transvaalse Natuurbewaring wou ‘n stokkie voor die veiling steek omdat “mens nie die Here se goed kan verkoop nie”. Volgens Willie Roux, die veteraanafslaer van Vleissentraal, is dié veiling aangebied deur die Transvaal Lewendehawe Koöperasie, ‘n affiliasie van die destydse Vleissentraal, wat toe die groot sentrale vleiskoöperasie van Suid-Afrika was. Weerstand van die natuurbewarings-owerhede in die Transvaal het indirek gelei tot die stigting in 1976 van die Transvaalse Wildvereniging.

Sedertdien het wildveilings ‘n geweldige rol in die ontwikkeling van die wildboerderybedryf gespeel en het dit in 2004 reeds ‘n rekordomset van meer as R104-miljoen rand per jaar opgelewer. Na raming word jaarliks ‘n nog groter omset in uit-die-hand-transaksies met lewende wild as uit veilings behaal.

Lewende wildveilings en/of katalogusveilings het permanent deel van die wildbedryf geword.

(sien bylae A: omsette van wildveilings 1991 – 2013)

1.3 Eerste provinsiale wildorganisasies

Pogings is in die jare dertig aangewend om ‘n wildproduksie-organisasie in die voormalige Kaapprovinsie op die been te bring, maar dié onderneming het skipbreuk gely.

Wildboere het van meet af verskille in benadering tussen hulle en die natuurbewaringsowerhede ondervind. Die destydse Transvaalse Landbou-unie het ook reeds in Augustus 1969 ‘n Natuurbewaringskonferensie in Pretoria gehou, waar die probleme uitgelig is.

As gevolg van hierdie probleme het Willie Roux omstreeks 1976 met ‘n paar Transvaalse wildboere gepraat en die behoefte aan ‘n mondstuk vir wildboere uitgewys. Drs Aap Myburgh en Dirk Neethling, Jimie Malan, Peter Knott en andere het toe op dr Aap se plaas Tshwarelano in die Soutpansberg bymekaar gekom en die Transvaalse Wildvereniging gestig. 

By van die ander provinsies het die behoefte ook sedert die vroeë jare sewentig ontstaan om wildboerorganisasies te stig. (Ons is bewus van Natal [1971] en Oos-Kaap [1980].) ‘n Wildtelersvereniging is ook in die jare sewentig in die Vrystaat gestig, wat eers ontbind, maar later weer van die grond gebring is.

  1. EERSTE NASIONALE ORGANISASIE

2.1 Die rol van Agri SA

Die eerste suksesvolle georganiseerde poging, onder die vleuels van die destydse Suid-Afrikaanse Landbou-unie (SALU, nou AgriSA) om ‘n nasionale organisasie vir wildboere daar te stel, het in Junie 1980 plaasgevind. Die Vrystaatse en Transvaalse Landbou-unies het toe onder voorsitterskap van mnr Jaap Wilkens, president van die Suid-Afrikaanse Landbou-unie, ‘n Nasionale Natuurbewaringskonferensie te Buffelspoort naby Rustenburg belê om die moontlikheid van ‘n nasionale wildorganisasie te bespreek. By hierdie geleentheid het Andrew Conroy van Victoria-Wes in die Noord-Kaap gevra die Suid-Afrikaanse Landbbou-unie moet die voortou neem om ‘n platform te skep wat as mondstuk vir wildboere kan dien.

2.2  Stigting 1981

Die SALU  se Nasionale Wildboerderykomitee (NWK) se stigtingsvergadering vind toe op

23 September 1981 te Bloemfontein plaas as een van die nasionale kommoditeitskomitees van SALU. Dit was dus ‘n interne organisasie van die SALU en die bestuur daarvan is toegesê aan die personeel van die Nasionale Vleiskomitee, wat later die Rooivleis Produsente-organisasie geword het (RPO).

Jack Raath, destyds adjunkdirekteur van SALU, het hom ook sterk hiervoor beywer.   

Die eerste bestuur het bestaan uit:
Andrew Conroy van die Noord-Kaap as voorsitter 
Jan le Roux Pieterse van die Vrystaat
AC Greyling van Transvaal
JP du Preez van Transvaal
Ian Goss van Natal
Sandy Stretton van Oos-Kaap
CJ Basson van Vleissentraal.

Wyle dr Eddie Young was as tegniese adviseur benoem en Hendrik van Eck van die Noord-Kaap was ‘n waarnemer. Dr Roy van der Veen van Veeartsenydienste was ‘n ampelike verteenwoordiger van die staat.

Andrew Conroy het vir die volgende 15 jaar die voorsitterskap beklee en die provinsies, wat soms uiteenlopende belange gehad het, bymekaar gehou. Die ander lede van die eerste bestuur en hulle onmiddellike opvolgers, soos dr Dirk Neethling en Jimie Malan van Transvaal, Karel Landman van Natal en Robin Halse van die Oos-Kaap, het vir baie jare hulle merk gemaak beide by die nasionale liggaam en by hulle provinsiale verenigings.

2.3  Naam

Die naam van die organisasie het mettertyd verander. Eers het die Nasionale Wildkomitee (NWK) die Nasionale Wildorganisasie (NWO), ‘n interne bedryfsorganisasie van die SA Landbou-unie (SALU) geword. Later word dit SA Wildboerorganisasie (SAWO) ‘n affiliërende organisasie van SALU met sy eie grondwet, wat los van dié unie opgetree het.

In 2005 is dit omskep tot Wildbedryf Suid-Afrika (Wildlife Ranching South Africa, WRSA), ‘n dinamiese Artikel 21-maatskappy wat sedertdien op ‘n wye front namens die wildboerderybedryf optree. 

2.4  Eerste vergaderings

By die heel eerste bestuursvergadering het sake na vore gekom wat vir baie jare daarna nog bespreek sou word. Die verslag van die departementele direktoraatskomitee oor wildboerdery is bespreek, wat sake soos die volgende gedek het:

  • Omvang van wildboerdery
  • Selektiewe weiding
  • Seisoenale produksie
  • Wildsiektes
  • Definisies van intensiewe wildboere en bona fide-wildboere
  • Biomassa-wildproduksie op gemengde weiding
  • Wild-vee-kombinasies en biomassa
  • Ekonomiese en bemarkingsaangeleenthede
  • Wild en abbatoirs

Die volgende is oor beperkende beheermaatreëls geopper:

Die moontlikheid om onnodige beperkings ten opsigte van wetlike beheer oor die vang, vervoer en afset van wild te evalueer en uit te skakel moes ernstig oorweeg word. Die eienaarskap van wild en meer stroombelynde permitbeheer ten opsigte van die vang en vervoer van wild is ook bespreek.

Met betrekking tot konsultasie is besluit om ‘n ernstige beroep op die provinsiale owerhede te doen om met die wildboere te konsulteer voor nuwe beheermaatreels ingestel word.

2.5  Eerste kongres

Die geskiedkundige eerste kongres van die Nasionale Wildboerdery-komitee het in September 1982 by die Golden Gate Hoogland Nasionale Park plaasgevind en is bygewoon deur bekende wildpersoonlikhede van daardie tyd, ook van buite wildboerdery.  Jim Cameron van SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging was daar, asook dr Lucas Potgieter, bekende jagter- en wapendeskundige.

Uit die verslag van daardie kongres blyk dit die referate en beskrywingspunte het ook maar die probleme weerspieël wat vandag nog knelpunte is:

  • Die vang, vervoer en hervestiging van plaaswild – wyle dr Eddie Young
  • Wildkampe en weiveldbeheer – P F du Toit, destyds bekende weidingskundige van die Dept. van Landbou
  • Die ekonomie van ‘n privaat wildplaas – John Varty van die pionier privaatwildplaas-ontwikkelaars (Londolozi)
  • Parasiete en parasietbeheer in diere in klein wildreservate – dr IG Horak van die Bosluisnavorsingsinstituut van die Rhodes Universiteit, Grahamstad
  • Bemarking van wildvleis – dr Johan Steenkamp van Vleissentraal, wat destyds reeds sterk aandag aan die bemarking van wildvleis gegee het en die wildvleisfabriek, Kovisko by Harrysmith by Gerhard Visser oorgeneem het.
  • Tradisionele Suid-Afrikaanse gasvryheid – mev Gio van Eck, eggenote van Hendrik van Eck, voorsitter van Noord-Kaap Wildvereniging en ook Noord-Kaap Jagters- en Bewaringsvereniging.

Die beskrywingspunte by daardie kongres het gehandel oor:

  • Wettige eienaarskap van wild op die boer se wildwerend omheinde plaas
  • Oordrewe en ontoepaslike wetlike beperkinge wat wildboerdery strem
  • Eiendomsreg en beheer oor wild
  • Eenvormigheid in die maatstawwe vir permitbeheer
  • Gemeenskaplike wildbewaringspraktyke
  • Bevordering van die binnelandse bemarking van wildvleis
  • Die keuring en registrasie van alle professionele jagters en jagondernemers
  • Die keuring en gradering van alle jaggebiede
  • Die Departemente van Toerisme, Handel en Nywerheid word versoek om sport- en trofeejag in Suid-Afrika in die buiteland te bevorder
  • Kongres bespreek die bewaring van bedreigde spesies soos aasvoëls, arende, jagluiperds, maanhaarjakkalse, bruin hiënas, ietermago’s, ens
  • Kongres bespreek die ideale wildheining en staatshulp met betrekking tot die oprigting van wildheinings.

Die president van die Suid-Afrikaanse Landbou-unie, Jaap Wilkens, het hierdie kongres geopen en die voorsitter Andrew Conroy, het sy eerste voorsittersverslag gelewer. Hy het klem gelê op die status van wild en die wildboer asook verskille in benadering van provinsiale owerhede, wat ‘n bron van kommer was, aspekte wat vandag nog aandag geniet. 

2.6  Administrasie

Skrywer was daardie tyd die Vleisbedryfsbeampte van die SALU wat die Nasionale Vleiskomitee (later die Rooivleisprodusente-organisasie [RPO]) van die SALU hanteer het met Marinus van Dyk, ‘n jong veekundige wat as sekretaris opgetree het. Die bestuur/sekretariaat van die nasionale wildkomitee is saam met die verantwoordelikhede teenoor die vleisprodusente behartig. Marinus is die man wat die elandembleem, afkomstig van ‘n San-rotstekening verskaf het, wat vir baie jare die organisasie se embleem was.

Ná skrywer in 1993 as bestuurder van SALU se Rooivleis Produsente-Organisasie en SA Wildorganisasie (SAWO) afgetree het, het hy op versoek van die wildboere tot in 2005 voortgegaan om die bestuur/sekretariaat van die organisasie op deeltydse grondslag te behartig, met onderbrekings van twee jaar en een jaar. ‘n Permanente kantoor met voltydse amptenare is toe vir Wildlife Ranching South Africa daargestel.

Skrywer het in 1994 die tydskrif SA Wild/SA Game gevestig wat later WILD & JAG / GAME & HUNT geword het.

2.7  Prestasies

2.7.1  Amptelike erkenning

Gedurende die eerste jare van die bestaan van die wildorganisasie was die belangrikste prestasie seker dat die Departement van Landbou oorreed is om wildboerdery te as ‘n landboubedryfsvertakking erken. Dit het sterk stukrag aan die ontwikkeling van wildboerdery verleen.

2.7.2 Wet of Wilddiefstal – 1991

Die daarstelling van die Wet op Wilddiefstal, wat amptelik wettige eienaarskap van wild op vrygestelde plase in die plaaseienaar gevestig het, het die grondslag gelê vir die geweldige uitbreiding in wildboerdery wat later sou plaasvind. Dit het aan wild kommersiële waarde verleen.

Die kongres van die NWK het op 25 Oktober 1988 probleme met wilddiefstal bespreek en die destydse President van Suid-Afrika, mnr PW Botha, wat die opening van die kongres waargeneem het, het van die problem kennis geneem. Hy het onmiddelik opdrag aan die SA Regskomissie gegee om na wetgewing te kyk en in Junie 1991 is die Wet of Wilddiefstal (Wet 105 van 1991) op die wetboek geplaas.

2.7.3  Internasionale Simposium

Die Suid-Afrikaanse wildboerderybedryf is in 1992 op die wêreldkaart geplaas met die aanbied deur die wildorganisasie van die “3rd International Wildlife Ranching Symposium (IWRS)” in Pretoria. Andrew Conroy en skrywer het Suid-Afrika in 1990 by die “2nd International Wildlife Ranching Symposium” in Edmonton, Alberta, Kanada verteenwoordig, waar ons bod aanvaar is om die volgende  Internasionale Wildboerdery Simposium in Suid-Afrika aan te bied. Met die hulp van befondsing deur die Departement van Landbou is ‘n internasionale bemarkingsveldtog van stapel gestuur en is ‘n besonder suksesvolle internasionale simposium aangebied. Daar was 458 afgevaardigdes van 20 lande teenwoordig. 68 Referate en 31 plakkaatvoorleggings is aangebied. Die tema was: “Wildlife Ranching, a Celebration of Diversity”.

In 2001 het SAWO oo k die “5th International Wildlife Ranching Symposium” in Pretoria aangebied. Dit was in ‘n meer beskeie formaat weens die gebrek aan staatsbefondsing.

  1. INSPRAAK

Deur die jare het die wildorganisasie hom ook daarvoor beywer en die erkenning daarvoor gekry om inspraak te hê in allerlei wetgewing wat die bedryf raak.

Daar is deurlopend ‘n rol gespeel in die daarstelling van relevante wette en regulasies, onder meer:

Wet of Wilddiefstal
Wet op Beheer van Vuurwapens
Wet op Vleisveiligheid
Wet op Dieregesondheid
Wet op die Bemarking van Landbouprodukte.

  1. SAMEWERKING MET ANDER ROLSPELERS

Die wildboerorganisasie was altyd bereid om met ander rolspelers saam te werk om die belange van die bedryf te bevorder. In die vroeë jare van die organisasie is die Wildlife Utilisation Forum of South Africa (WUFSA) gestig, wat wildboere, jagters, natuurbewaarders en betrokke staatsdepartemente saamgetrek het om gesamentlik namens die bedryf ‘n spreekbuis te vorm.  Robin Halse van die Oos-Kaap het hier die inisiatief geneem. Weens die gebrek aan ‘n permanente sekretariaat, wat fondse geverg het, is hierdie poging nie volgehou nie, en dit is later vervang deur die Kamer vir Wildlewe, wat baie ambisieus weggespring het, maar later ook gefaal het weens die huiwerigheid van die lede om befondsing vir ‘n permanente sekretariaat te voorsien.

In 2006 het die Hunting and Wildlife Associations of South Africa (HAWASA) hierdie rol met sukses vervul omdat die Professional Hunters’ Association of South Africa (PHASA) aangebied het om die sekretariaat te behartig en ‘n neutrale voorsitter aanvaar is. In die onlangse verlede is verskillende forums deur die SA Polisiediens, ten opsigte van die Wet op die Beheer van Vuurwapens, en deur die Departement van Omgewingsake en Toerisme ten opsigte van bewaringsaangeleenthede daargestel, waarop WRSA ook verteenwoordig is.

  1. AFSLUITING

Die wildboere van Suid-Afrika het deur hulle eie inisiatief hulleself georganiseer om ‘n dinamiese rol in die kommersiële wildbedryf te speel.

Vandag beslaan wildboerdery op privaatgrond ‘n groter oppervlakte as al die nasionale parke en provinsiale natuurreservate tesame en dra ook meer wild. Wildboerdery maak ‘n groot bydrae om Suid-Afrika ‘n gesogte bestemming vir jagters en ekotoeriste te maak.

Ja, die wildboerderybedryf in Suid-Afrika het ‘n lang pad gekom om hom as die belangrikste rolspeler in die volhoubare ekonomiese benutting van ons land se natuurbates te vestig.

(Hierdie dokument is bygewerk in Oktober 2014)

BYLAE A

Copyright 2024 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT