Visvanger (Bigstock)

Oorspronklike artikel deur Johmine Croeser op 29 Julie 2020

Daar is talle plekke in Suid-Afrika waar jy na voëls in hokke kan gaan kyk, maar dis ’n ander tipe opwinding om ’n voël van ’n ander kleur voor jou te sien land. Dán hou ’n mens jou asem op en is jy amper te bang om jou oë te knip, want jy weet die geringste geluid of beweging kan hom die hemele instuur nog voor jy hom behoorlik bekyk óf ’n foto geneem het.

Ek het myself nog nooit as ’n voëlkyker of ’n voëllieflhebber beskou nie, maar ons het onlangs ’n voëlvoerder in ons tuin opgesit en ek was buite myself toe die eerste voëltjie (sommer ’n gewone swartkeelgeelvinkie) ná ’n hele week uiteindelik op die dakkie kom staan het. Dit was nie lank nie of ek vra vir my ouers kort-kort oor elke voëltjie en besef dat ek verbasend min weet. Ek verwys nou nog na die muisvoël-familie wat gereeld in ons aartappelboom kom baljaar as die langstertfamilie. 

En so het ek toe sommer in ’n voëlkyker verander. Omdat ek self nog baie min oor ons geveerde vriende weet, het ek begin om ’n bietjie navorsing te doen oor my gunstellingvoëls, goed waaroor ek nog altyd gewonder het en oor voëls waarvan ek eintlik baie min weet. Lees ’n bietjie verder om te sien hoe van Suid-Afrika se mees ikoniese voëls lyk en waar jy hulle te sien kan kry vir wanneer jy weer op ’n lekker wegbreek gaan en ure lank op die stoep kan sit en voëlkyk. 

Dwergvisvanger

Daar is 86 visvanger-spesies reg oor die wêreld. Dié langsnawel-voël kom op elke kontinent behalwe Antarktika voor en daar is ongeveer tien verskillende soorte in Suid-Afrika. Ten spyte van die naam, is hulle nie almal van vis of water afhanklik nie; party woon in die bos en eet insekte of invertebrate. 

Die dwergvisvanger is die kleinste visvanger in Suid-Afrika: hulle is net sowat dertien sentimeter lank. Die dwergvisvanger en die gryskopvisvanger is die enigste visvangers wat op die Afrika-kontinent rondtrek, die res is standvoëls wat net op een plek bly. Die dwergvisvanger kom tussen September en Oktober na die suidelike dele van Afrika om te broei en beweeg in Maart weer op na Sentraal-Afrika.

’n Kleurvolle dwergvisvanger langs die Kariegarivier (LekkeSlaap).

Kenmerke: Dit het ’n helderrooi snawel en ’n blou rug, maar die agternek is rooierig wat dit van die klein kroon skei. Dit het ’n pers oorvlek en ’n bruinerige wenkbrou.
Eet: Insekte en klein paddas.
Habitat en nes: Oop, grasryke Bosveld, kusbosse en kuswoude. Hulle sit taamlik laag en hul neste is tonnels wat hulle in sandwalle grawe.
Waar kom hulle voor: Al langs die Ooskus op tot by Limpopo.
Geluid: ’n Hoë tjip-tjip in vlug.

Sekretarisvoël

Die sekretarisvoël is ’n baie groot roofvoël en kan tot 1,4 meter lank word. Mense het vir lank gedink dié naam verwys na die lang vere teen die voël se agterkop wat soos die veerpenne lyk wat klerke in die neëntiende eeu in hul pruike gedruk het, maar dit is eintlik van die Arabiese woord saqr-et-tait afgelei, wat jagtervoël beteken.

Die voël kan verskriklik vinnig hardloop en word soms “die duiwel se perd” genoem. Alhoewel hulle ook baie goed kan vlieg, sukkel hulle om van die grond af op te styg en moet omtrent soos ’n vliegtuig eers ’n lekker aanloop neem om op te styg.

Die statige sekretarisvoël (Bigstock)

Kenmerke: Dié voël se lang bene veroorsaak dat hy gereeld met ’n kraanvoël verwar word, maar jy kan dit aan sy kort snawel met ’n skerp keep soos dié van ’n valk en aan sy korter stertvere met twee langer vere in die middel uitken. 
Eet: Hulle eet klein soogdiere, insekte, akkedisse, slange, voëleiers en voëls wat hulle jaag en dan óf met hul snawel oppik óf met hul pote trap. 
Habitat en nes: Hulle kom in oop grasvelde voor. Die nes word sowat vyf tot sewe meter hoog in ’n akasiaboom gebou. Hulle bou ’n nes van tot 2,5 meter wyd en 30 sentimeter diep met stokke en takke en ’n graslagie.
Waar kom hulle voor: Die sekretarisvoël is endemies tot Suid-Afrika en kom reg oor Suid-Afrika en Namibië voor.
Geluid: Hulle is meestal stil, maar maak kwaakgeluide wanneer hulle pronk.

Bromvoël

Daar is omtrent 55 verskillende neushoringvoël-spesies en hulle kom in tropiese en subtropiese Afrika, Asië en Melanesië voor. Daar is sowat agt spesies in Suid-Afrika, waarvan ses ook in Namibië voorkom. Omdat hulle van ’n warm klimaat hou, kom hulle glad nie in die suide voor nie, maar eerder in die noorde van Suid-Afrika vanaf die Noord-Kaap tot by Limpopo. Dit is slegs die gekroonde neushoringvoël en sy boetie, die bromvoël, wat teen die Ooskus gewaar kan word. Ses van ons neushorings is van dieselfde genus afkomstig en lyk dus baie eenders. Klein kenmerke soos die kleur van hul snawel en lyfie help ’n mens om hulle te kan onderskei.

Geelbekneushoringvoël ─ een van die ses spesies in die Tockus-genus (LekkeSlaap)

Van al die ander neushoringvoëls, is die bromvoël enig in sy soort. Hy kan tot een meter lank word wat amper dubbeld die grootte van die ander voëls is. Die bromvoël is ook baie meer sosiaal en word gereeld in groepe van tot nege gesien.

Die bromvoëlwyfie word aan die donker vlek net onder die snawel uitgeken (LekkeSlaap).

Kenmerke: Dit is darem maklik om dié neushoring van die ander te onderskei aan sy kaal, rooi gesig, opgeblaasde keelsak, geel oë, swart vere en sy lang, dik snawel. Die bromvoëlwyfie het ook ’n blou vlek op haar keelsak.
Eet: Hulle eet diertjies wat meestal op die grond voorkom, soos akkedisse, slange en paddas. 
Habitat en nes: Hulle kom in die Bosveld en Savanne voor waar hulle in breëblaarbome slaap, maar sal bedags op die grond wees.
Waar kom hulle voor: Omdat die voël ’n bedreigde spesie is, sal jy hulle nie sommer buite ’n nasionale park of reservaat aantref nie. Hulle is wel by die Krugerwildtuin, iSimangaliso Vleiland en die Kosibaai Natuurreservaat te sien.
Geluid: Die roep is ’n harde, dreundende ooooemf-ooooemf-ooooemf met dagbreek. Dit klink baie soos die brul van ’n leeu en wanneer ’n groep van hulle saam begin roep, kan dit tot drie kilometer ver gehoor word.

Witkruisarend

Ek wou nog altyd weet wat die verskil tussen ’n valk en ’n arend is en met verdere ondersoek het ek uitgevind dat daar nóg voëls soortgelyk aan dié twee is, soos die slangarend en jakkalsvoël. Natuurlik is daar altyd ’n uitsondering of twee, maar oor die algemeen is die arend se bene heeltemal geveer waar die ander s’n tot net so in die helfte van die been vere het of glad geveer is nie. Arende se vlerke is breed, gerond en oopgesprei aan die punte dat dit amper soos vingers lyk waar ’n valk se vlerke skerper en gepunt is. 

Die witkruisarend is een van Suid-Afrika se drie grootste arende. Hierdie arende het net een lewensmaat, hulle word dus gereeld in pare gesien en soms met hul onvolwasse kuiken. 

Net in vlug kan ’n mens sien dat die witkruisarend nie pikswart is nie (Bigstock)

Kenmerke: Die arend is geheel en al swart, behalwe in vlug wanneer daar ’n groot, wit kruis oor sy rug en wit vere aan die punte van sy vlerke te sien is.
Eet: Hulle eet graag dassies.
Habitat en nes: Om naby hul prooi te wees, kom hulle in bergagtige landskappe voor. Hulle bou groot neste van stokke op die hange van rotse en berge. Omdat hulle van sulke hoogtes af vlieg, het ou Afrika-volke geglo dat hulle boodskappers van die voorvaders is. 
Waar kom hulle voor: Die arende kom amper reg oor Suid-Afrika in die ooste, sentrale en suidelike dele van die land voor, asook in sentrale Namibië.
Geluid: Hulle is oor die algemeen baie stil, maar sal tjirp-geluidjies maak wanneer hulle met hul maat herenig en hulle maak skerp en harde whaeee-whaeee of keeooo-keeooo geluide wanneer hulle indringers wegjaag. 

Kransaasvoël

Aanvanklik wou ek nie oor die aasvoël skryf nie, omdat ek nie kan dink dat ’n mens op die uitkyk vir hulle wil wees nie, maar hulle is werklik een van die interessantste voëlspesies. Byvoorbeeld, hulle kenmerkende kaal koppe en nekke is nie so kaal sodat hulle prooi hulself moet doodskrik nie, maar eerder sodat bakterieë en parasiete wat in karkasse voorkom nie in hul vere broei en infeksies veroorsaak nie.

Dit is ook net ’n mite dat aasvoëls sterwende diere omsingel. Hulle kan wel ’n karkas baie vinnig ruik of sien.

Dié voëls is so besonders dat hulle hul eie spesiale dag het. Die eerste Saterdag in September is Internasionale Aasvoëlbewusmakingsdag sodat meer mense sal leer hoe interessant en kosbaar hierdie voëls vir die onderhoud van ’n gesonde ekosisteem is.

Die kransaasvoël is suider Afrika se enigste endemiese aasvoël. Hulle bly in kolonies van tot ’n duisend broeipare en bly lojaal aan een lewensmaat.

Die kransaasvoël se kontrasterende ligte en donker vere is ook ’n maklike manier om hulle uit te ken (Bigstock)

Kenmerke: Volwassenes het ’n donker, grysblou keel en nek en ’n gelerige oog waar onvolwassenes ’n pienk keel en gesig en ’n bruin oog het. Verder is die res van die voël baie ligter van kleur as ander aasvoëls. Die lyf is ’n witterige grys met bruin gevlek. Die punte van die vlerke is swart en die binnekant is ’n donkerbruin.
Eet: Aasvoëls eet slegs aan die karkasse van dooie diere. Hulle sal nooit hulle eie kos vang nie. Hulle pote is ook nie sterk genoeg om kos op te tel nie, wat beteken dat hulle die kos eet waar hulle dit kry.
Habitat en nes: Hulle word in heuwelagtige en bergagtige gebiede, asook grasvlates aangetref. Die nes is net ’n platform van stokke met ’n lagie droë gras waaraan albei geslagte bou.
Waar kom hulle voor: Hulle is meestal in die ooste van Suid-Afrika te sien en jy kan moontlik in die Kaap van hulle gewaar. ’n Groot deel van die spesie woon in die Maloti-Drakensberg.
Geluid: Wanneer hulle in hulle nes of by ’n karkas sit, kekkel hulle luidrugtig.

Natuurlik is daar nog hope voëls in Suid-Afrika wat elke dag verby ons sweef, maar ek hoop eintlik net dat hierdie lysie jou nuuskierigheid prikkel en opgewonde maak oor die fantastiese voëls in ons land. Die ding wat voëlkyk nóg beter maak, is dat dit heeltemal gratis is, behalwe as jy ’n park of ’n reservaat besoek of vir jou toerusting soos kameras en verkykers wil aanskaf.

Sasol se boek, Suider-Afrikaanse Voëls: ’n Fotografiese Gids, is fantasties om te hê as jy meer ernstig oor voëlkyk raak. Die duidelike prentjies en beskrywings sal jou gou-gou help om ’n voël uit te ken. Natuurlik is daar ook hope inligting aanlyn beskikbaar, of jy kan selfs by ’n groepie op Facebook aansluit.

Copyright 2021 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT