Ietermagôs: van eksotiese dis tot wyn tot pille

Henriette Lamprecht – Hulle bewandel die aarde reeds vir 80 miljoen jaar, eet miere en termiete (tot 70 miljoen per jaar!) en is skadeloos vir mense. Tog is ietermagôs bekend as die dier wat die meeste ter wêreld verhandel word en maak soveel as 20% van alle onwettige handel in wildlewe uit.

Meer as ’n miljoen ietermagôs is in die dekade voor 2014 gestroop, hoofsaaklik vir hul skubbe wat geglo word ’n verskeidenheid gesondheidstoestande in tradisionele Chinese medisyne behandel en ook as ’n fynproewersdis in Viëtnam en China beskou word.

In Afrika word ietermagôs verkoop as ’n tipe van “bosvleis” vir rituele en ook spirituele doeleindes en word dit ook in tradisionele Afrika-medisyne gebruik. Baie keer word die dier egter verhandel bloot vir klerasie en mode.

BEDREIGDE SPESIES

Die Konvensie vir Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (Cites) wat die internasionale handel in wildlewe reguleer, het reeds sedert 1975 beperkings op die handel in ietermagôs geplaas.

In 2016 het dit ook al agt spesies by sy Byvoegsel I gevoeg wat gereserveer is vir die strengste verbod op diere wat deur uitwissing bedreig word.

Ietermagôs is die enigste soogdier wat ’n laag groot, beskermende keratienskubbe het wat hul vel bedek. Hul gedrag hang af van die spesies waaraan hulle behoort, met sommige wat bogronds woon, terwyl ander in holtes en selfs in bome woon.

Roofdiere soos groot katte sukkel om verby ’n ietermagô se skubbe te kom wanneer die dier homself oprol, maar hoewel goed toegerus teen natuurlike roofdiere, is hul weerloos teen stropers wat hulle bloot in dié posisie optel.

’N KONING SE BAADJIE

‘n Jas gemaak uit skubbe wat in 1820 as geskenk aan koning George III gegee is. FOTO WIKIPEDIA

Hoewel dit voorkom asof die handel in ietermagôs deel van die moderne tyd is, is dit eeue oud.

’n Voorbeeld hiervan dateer uit 1820 toe Francis Rawdon, die eerste Markies van Hastinges en Oos-Indië se goewerneur-generaal in Bengal, ’n baadjie aan koning George III oorhandig het wat gemaak is uit die skubbe van die spesies Manis crassicaudata.

Deel van ’n uitstalling van die Royal Collections Trust is ook ’n jas en helm wat uit ietermagô- en armadilskubbe gemaak is. Dit is deur Bhavani Singh, Maharaja van Datia aan koning Edward VII oorhandig toe hy as prins van Wallis in 1875-’76 deur Indië getoer het.

COVID-19

Vroeg in die coronaviruspandemie van 2019-’20 is aanvanklik gevind die nukleïensuurvolgorde van virusse wat van ietermagôs geneem is, stem 99% ooreen met SARS-CoV-2, die virus wat Covid-19 veroorsaak.

Daar is geglo die virus het in vlêrmuise ontstaan en dat ietermagôs ’n tussengasheer was voordat dit mense besmet het. Die onwettige Chinese handel in ietermagôs is voorgestel as ’n draer vir menslike oordrag.

Ietermagôs is egter later uitgeskakel as die definitiewe bron van SARS-CoV-2, nadat bevind is die 99%-ooreenkoms verwys eintlik nie na die hele genoom nie, maar na ’n spesifieke gedeelte wat bekend staan as die reseptorverbindingsdomein (RBD).

’n Vergelyking van die hele genoom het bevind die ietermagô- en menslike virusse deel net tot 92% van hul nukleïensuur, terwyl ten minste 99,8% vir ’n deurslaggewende ooreenkoms nodig is. Veral ekoloë was bekommerd dat die vroeë spekulasie oor ietermagôs as die bron kon lei tot massaslagtings van die diere en dit net nog meer in gevaar stel.

SWARTMARK

Die swartmark in die handel in ietermagôs is primer aktief in Asië, veral in China waar die diere as ’n pes beskou kan word.

Aanvraag is veral hoog vir hul skubbe, maar die hele dier word ook verkoop, hetsy lewend of dood, vir die produksie van ander produkte met beweerde medisinale eienskappe of vir verbruik as eksotiese kos.

SKUBBE

Skubbe wat in Kameroen gekonfiskeer is. FOTO WIKIPEDIA

Ietermagôs het ’n dik laag beskermende skubbe wat uit keratien gemaak is, dieselfde materiaal waaruit mense se vingernaels en renosters se horings bestaan.

Die skubbe is sowat 20% van die dier se gewig.

Op die swartmark kan die skubbe tot meer as US$3 000 per kilogram kos.

In tradisionele medisyne word die skubbe vir ’n verskeidenheid doeleindes gebruik. Die ietermagôs word gekook om die skubbe te verwyder wat dan gedroog en gerooster word. Dit word dan verkoop met beloftes dat dit help om die produksie van borsmelk te bevorder, help om etter te dreineer en ook velsiektes of verlamming te verlig. Vanaf 2015 is ietermagôskubbe selfs onder sekere versekeringsplanne in Viëtnam gedek.

VLEIS

‘n Ietermagô word voorberei om gekook te word. FOTO WIKIPEDIA

Ietermagôvleis word gesien as delikatesse in dele van China en Viëtnam.

In China word geglo die vleis het voedingswaarde om te help met nierfunksie. In Viëtnam vra restaurante soveel as US$150 vir ’n pond ietermagôvleis. By een restaurant in Ho Chi Minh City, is ietermagô die duurste item op die spyskaart van eksotiese wildlewe en word ’n deposito en ’n paar uur se kennisgewing vereis voordat jy aansit. Personeel maak dikwels die dier by die tafel voor die gaste dood om te wys hoe vars die vleis is.

Volgens Dan Challender van die Internasionale Unie vir die Bewaring van die Natuur se spesialisgroep vir ietermagôs, word die feit dat dit onwettig is, glad nie onderspeel of weggesteek nie. Inteendeel verhoog dit net die aantrekkingskrag omdat dit ’n element byvoeg dat jy ver verby wette leef.

Die onwettige handel in wildlewe in Mianmar. FOTO WIKIPEDIA

TRADISIONELE MEDISYNE

Die amptelike farmakologie van die People’s Republic of China gaan voort om Chinese ietermagôskubbe in te sluit in formules vir tradisionele Chinese medisyne en daar is ’n wettige mark hiervoor.

Hedendaagse gebruike van die skubbe sluit onder meer in om bloedsirkulasie te bevorder. Pille wat van verpoeierde skubbe gemaak word, word ook beweer kan tot van onvrugbaarheid tot anoreksie in kinders genees.

Dalk minder algemeen bekend is ietermagôwyn wat gemaak word deur ryswyn met ’n baba-ietermagô te kook. Dit sou glo help vir velsiektes en verbeterde asemhaling. Die bloed van ietermagôs word ook gesien as iets van medisinale waarde, terwyl ook die velle verhandel word.

AFRIKA

In Afrika is die jag van en handel in ietermagôs vir spirituele doeleindes, tradisionele medisyne en vleis.

Dit word onder meer ook gebruik om iemand se finansies en geluk ’n hupstoot te gooi en om jou teen geestelike magte te beskerm.

GEVANGENSKAP ’n Groot uitdaging vir omgewingsbewaarders is die probleme wat ietermagôs in gevangenskap ervaar. Die diere pas nie goed by alternatiewe of kunsmatige kos aan nie en lei dikwels aan stres, wanvoeding en depressie wat hul lewens beduidend verkort. Juis om dié rede word die diere weinig in dieretuine gevind.

NAMIBIë

Ietermagôs help om die delikate balans van die ekosisteme waarin hulle woon, te onderhou.

Sonder dié diere om termiete te eet, sal die drakapasiteit van Namibië se weivelde vir huishoudelike gebruik en wildlewe beduidend verminder word.

Ietermagôs se groot en langwerpige kloue stel hulle in staat om slote onder die grond te grawe waar hulle kan skuil en ook om mier- en termietneste vir kos uit te grawe.

Deur dit te doen, meng en belug hulle die grond wat die voedingsgehalte van die grond verbeter en die ontbindingsiklus ondersteun wat ‘n gesonde basis vir die groei van plantegroei verskaf.

Ietermagôs se ondergrondse gate bied ook ’n tuiste vir baie ander diere, waaronder die skaars swartpootkat. Slegs een spesie van die ietermagô kom in Namibië voor en wel die Kaapse ietermagô.

Die Namibiese Kamer van die Omgewing (NCE) het met ’n uitreikinisiatief begin om landgenote bewus te maak van die bedenklike status van die dier en om te help om onwettige handel te stop.

Bronne: www.restnamibia.org; n-c-e.org, en.wikipedia.org

Copyright 2022 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT