JAG - ONS EERSTE BEROEP OP AARDE

Die woord JAG beteken om te SOEK te VIND en te BEKOM

Die mens se eerste beroep op aarde was om te jag en hulle moes jag vir oorlewing, maar vandag jag ons vir verskeie ander redes. Die jagtersdrang by mense sal nooit verander of ophou nie.

Baie mense het kontak met die natuur verloor en maak jag op verskeie ander maniere. Die manne jag vir winskopies in motorlokale, wapen-en buite-lewewinkels. Die dames maak jag in die winkels vir die nuutste modes en ook spesiale aanbiedings in die modebedryf, ook in kruidenierswinkels en jag vir dit wat hulle graag wil hê, en wat hulle goed sal laat voel om te besit.

Mense jag op die internet, in die kasino’s en soms ook op mekaar. Mans jag die dames en andersom, maar die mens se instink om te jag, die begeerte om te soek, te vind en te besit sal vir altyd deel van die mens se lewe wees.

Baie mense het hulle ingebore avontuurlus behou en maak nog jag op wilde diere, en doen dit volgens streng etiese standaarde, met die doel om te benut en te bewaar wat hulle jag.

Jag van wilde diere is noodsaaklik vir die bewaring van die dier en sy habitat, wat deur te groot getalle vernietig word.

Diere het ook ‘n beperkte leeftyd, waarna hulle hulle tande verloor en dan vrek hulle van honger wat tussen 3 tot 6 maande kan duur.

Die minimum trofeë-mate wat deur Roland Ward bepaal was, is die ouderdom wanneer die manlike dier die vermoë om te teel, verloor het; maar jagters behoort ook ouer vroulike diere te soek. Wanneer ons die regte waarde aan ons diere heg, sal ons ook die trofee in enige vorm bewaar.

Die natuur is baie groot, en die betrokkenheid van die mens vir die bestaan daarvan is onvermeidelik. Die natuur het daarom ons wysheid nodig en nie ons emosie of jammerte nie, want so bepaal ons, ons eie waardes en ook ons waardes vir die natuur- en natuurlewe op aarde.

DIE AKTIWITEIT VAN JAG

Die Skepper het voorsiening gemaak vir die oorlewing van alles wat op aarde lewe. Vir oorlewing is daar ‘n ketting van benutting, waar die wat benut, weer deur ander benut word, sodat hulle kan lewe en daardie benutting vind plaas deur beëindiging van lewe voor en tydens benutting. Moederaarde kan net bestaan solank alles in ewewig is en so bly.

David Attenborough het ‘n leeftyd gespandeer om die wondere van die natuur op aarde te ontdek en waarom en waaruit dit bestaan, en dit alles op sy wonderlike manier aan ons oorgedra.

Die Spaanse professor en filosoof Jose Ortega O’Gasset het die aktiwiteit van jag gemediteer en bevind dat die mens nie jag om dood te maak nie, maar jag om te bekom vir oorlewing soos dit in die natuur is en bedoel was.

Jag om kos te vind was seker die eerste aktiwiteit van die mens op aarde nadat hulle, deur verkeerd te doen die paradys moes verlaat.

Jag in soveel vorme bly vandag nog die grootste aktiwiteit van mens en dier, en kan daarom nooit verkeerd wees nie, en die wat nie aanvaar nie, verstaan dit nie.

Wanneer ons jag en ‘n dier doodmaak, beëindig ons lewe, en om ‘n rooibok te jag, beëindig ons ‘n lewe om voedsel te bekom net soos die leeu, luiperd en krokodil.

Wanneer ‘n boom afgesaag word, beëindig ons baie lewe wat oor ‘n lang tyd bestaan het, net om ‘n huis te bou, meubels te maak of selfs net te brand.

Wanneer ‘n olifant gejag word, beëindig ons ook lewe, maar die olifant se lewenstydperk is baie korter as die van ‘n geelhout- of eikeboom. Word daar meer lewe beëindig om ‘n olifant wat soveel emosie verwek wanneer dit gejag word, as om ‘n geelhout of enige ou boom van baie meer jare af te saag?

Kan die grote of tydperk van lewe gemeet word en verskil die lewe van dit wat loop, vlieg of swem; van dié wat groei en blare en vrugte dra en dienaars is, van die wat loop, vlieg en swem?

Is daar miskien meer lewe beëindig deur ‘n hoender te slag of om ‘n lantanabos uit te kap of om net ‘n koolkop af te sny.

Miskien is lewe net lewe solank dit leef maar die hoeveelheid lewe wat ons beëindig, is miskien dieselfde; al is dit die dier, die voël, die vis of die plant, waarvan die lewe beëindig word.

Die doel van jag deur mens en dier is daar vir oorlewing en elke persoon is deel daarvan, en ons oorleef deur beëindiging van lewe, selfs die vegetariërs. Wanneer die mens nie lewe beëindig nie kan hy nie oorleef nie, hoe kan dit verkeerd wees en jag van diere gekritiseer word?

Miskien moet ons kyk na wat ons doen met dit wat die Skepper aan die mens toevertrou het en alles met die nodige eerbied hanteer.  Ons moet met diere en pluimvee boer sodat hulle kan vermeerder om aan die behoeftes van die mens te voorsien. Wanneer ‘n boom afgesaag word, moet ons twee bome plant, sodat daar aan die mense se voortbestaan voldoen kan word.

Die natuur het die mens se wysheid nodig en nie sy simpatie of afkeer nie, want ons kan tog nie die weg van oorlewing deur die Skepper negatief benader nie.

Die diere wat ons liefhet, moet nie net ons eie diere wees wat ons vertroetel nie, maar om geestelike balans te vind vereis dit die meditering van O’Gasset, anders kan ons nie sy gedagtes verstaan nie.

Wanneer ons jag is daar net twee maniere om die dier se lewe te beëindig, ons moet die senuweestelsel vernietig of ons moet die hart en brein sonder bloed of suurstof laat.

Omdat wildediere wild is, jag ons hulle oor verskillende afstande terwyl ons groot en gevaarlike diere op die kortste moontlike afstande moet jag. Sekere diere soos springbokke en vlaktewild jag ons gewoonlik oor langer afstande omdat hulle van oop gebiede hou.

Ons sal nie ‘n olifant of buffel mis skiet nie, maar die organe wat ons moet tref om lewe te beëindig, kan ons mis en dit gebeur omdat ons nie altyd die plek van die organe ken nie, want ‘n koeël êrens in die lyf sal lewe nie beëindig nie. Ons mis die organe deur onvoldoende kennis asook ons eie senuwees a.g.v. van die element van moontlike gevaar.

Om oor 300meter en verder te jag is die regte geweer, teleskoop, ammunisie, ‘n rus en die regte skut nodig. Dan word net na die hart-long area geskiet en al kan die dier met die koeël wat gebruik word gedood word, is die risiko nog daar. Wanneer na die brein geskiet word, kan dit van voor of van die kant gedoen word en so ook die hart-long area, behalwe reg van voor, kan die hart en longe maklik gemis word.

Elke jagter ken sy geweer en sy eie vermoë en daarom moet wild nie weghardloop met ‘n koeël êrens in die lyf waarvan dit weke later sal vrek nie. Jag deur ‘n ware jagter is ‘n edel sport en was die mens se eerste beroep op aarde. Jag deur die mens sal altyd daar wees solank die mens die aarde bewoon en waarde aan ons natuurlewe heg.

Diere vrek gewoonlik nie van siektes nie maar, diere soos koedoes en rooibokke se lewe is gemiddeld net 12 jaar, waarna hulle, hulle tande veloor en vrek dan van honger wat van 3 tot 6 maande neem.  Dit is die jagter se plig om die ou en beseerde diere uit te haal want die etiese jagter neem die kortste tydperk om daardie lewe te beëindig.

In die Masai Mara wanneer die groot troppe wildebeeste en sebras deur die rivier gaan is dit baie duidelik om te sien hoe die natuur van die ou en swakker diere ontslae raak.

Jag was miskien die noodsaaklikste aktiwiteit van die voortrekkers want waar hulle gegaan het, was niks om te eet of van te leef nie, behalwe wild. Ek wonder hoeveel van ons land se mense besef dat die bestaan van ons beskawing, baie van die wild van ons land afhanklik was.

Die mens sal jag solank hulle op die aarde wil voortbestaan en die bewaring van dit wat gejag en waarvan die lewe beëindig moet word, is die toekoms van die mens op aarde.

Handboek vir die jagter, deur Fanie Combrink.  Kontak hom gerus by faniecombrink@gmail.com om jou eksemplaar te bestel.

Copyright 2021 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT