Krismis-ollie se maat kry nuwe nekband
Francoise Steynberg
Dit gaan goed met die sogenaamde Swakop- of Krismisolifant wat kusbewoners en vakansiegangers op Oukersdag 2019 met sy besoek uit die binneland verras het.
Dr. Rudie van Vuuren van die N/a’an ku sê-stigting het op navraag van Network Media Hub (NMH) bevestig dat dit uitstekend gaan met die rondloperbul wat later op die Zannier-wildreservaat oos van Windhoek gevestig is. Die Krismis-ollie, wat Apollo genoem word, het intussen boonop twee jonger flapoormaats, Ace en Astro, gekry om hom geselskap te hou.
Destyds is gevrees dat die bul met “Wanderlust” amok by die kus sou maak, as probleemdier verklaar en van kant gemaak sou word. Hy is deur die destydse ministerie van die omgewing en toerisme met water en voer teruggelok binneland toe.
Die grootpoot het vir ‘n wyle in die Omarururivier gebly en is middel Januarie 2020 deur ‘n veearts van die ministerie met ‘n satellietnekband toegerus om sy bewegings te monitor. Die bul het sowaar weer ‘n U-draai gemaak en ‘n maand later teruggeloop see toe waar hy in die Swakoprivier naby die Rössmund-gholflandgoed opgemerk is.