Etiese gebruik van hommeltuie by olifante

Studie gedoen vir bestepraktyk-reëls

Navorsers van die Universiteit Stellenbosch (US) het praktiese riglyne en voorgestelde etiese protokolle geskryf oor hoe om olifante so min as moontlik te steur wanneer oor hulle gevlieg word met hommeltuie.

Dis van waarde vir navorsers en filmmakers wat Afrika-olifante dophou.

‘n Artikel hieroor het in die vaktydskrif KOEDOE – African Protected Area Conservation and Science verskyn. Dis geskryf deur Wesley Hartmann, wat onlangs ’n MSc in bewaringsekologie aan dié universiteit behaal het, dr. Vicky Fishlock van die Amboseli Trust vir Olifante in Kenia en die Sentrum vir Ekologie en Bewaring aan die Exeter Universiteit in Brittanje, en wildbestuur-deskundige prof. Alison Leslie van die departement bewaringsekologie en entomologie in die Fakulteit AgriWetenskappe aan die US.

“Hierdie is die eerste voorstelle oor hoe mens op ‘n etiese manier hommeltuie rondom Afrika-olifante kan gebruik,” sê Hartmann.

“Dis belangrik om oor sulke sake na te dink wanneer olifante verfilm of bestudeer word, om te verseker die diere word so min as moontlik gesteur. Die protokolle wat in hierdie studie ontwikkel is, kan ook gebruik word om stres onder die diere te verminder wanneer hommeltuie vir navorsingsdoeleindes gebruik word.”

Hy sê die riglyne kan ook gebruik word om die effek te bepaal wat die teenwoordigheid van hommeltuie kan hê op ’n dier se werklike gedrag.

“Dit help nie om ’n hommeltuig te gebruik om hul gedrag te bestudeer as die data wat so versamel word eintlik verkeerdelik beïnvloed word deur die tegnologie se blote teenwoordigheid nie.”

Hartmann en sy twee medenavorsers het twee protokolle geskryf. Een bevat riglyne om te gebruik wanneer ’n hommeltuig nadervlieg in die rigting van ’n olifant of trop. Die tweede kan gebruik word wanneer daar rondom die diere gevlieg word.

Vir die nadervlieg-protokol word die impak van ’n vierskroef-hommeltuig se spoed, invalshoek en oorspronklike vertrekhoogte op die reaksies van die diere in ag geneem, terwyl die volgehoue spoed en vlugpatroon ook in die tweede protokol opgeneem is.

AANBEVELINGS

Volgens Hartmann maak die spoed en invalshoek van ’n hommeltuig as dit ’n trop benader ’n aansienlike verskil in hoe naby ’n mens aan die diere kan kom sonder om hulle te steur. Interessant genoeg maak nóg die spoed nóg die vlugpatroon enige meetbare impak op olifantgedrag tydens voortgesette/volgehoue vlugte.

Hier is ’n paar van hul aanbevelings:

  • Loods hommeltuie minstens 100 m weg van ’n olifant of trop olifante.
  • Gebruik ’n naderspoed van 2 m/s, en ’n invalshoek van 45 grade of minder.
  • Moenie van bo af kom teen ’n 90 grade hoek nie.
  • Vlieg deurlopend een hoogte, eerder as om tussen hoogtes te wissel.

Die gebruik van ’n vastehoek-benadering is belangrik, merk Hartmann op, omdat dit die diere toelaat om hulself maklik te oriënteer tot die hommeltuig, en die voorwerp te sien wat die geraas maak.

“Olifante kan nie hul nekke ten volle oplig nie, en daarom kan hulle nie maklik regop in die lug kyk nie. Olifante verkies om die bron van geraas te kan sien en te identifiseer, en sal dikwels kalmeer wanneer hulle dit eers geïdentifiseer het,” verduidelik hy.

OORSPRONG VAN DIE STUDIE

Die studie is uitgevoer in twee nasionale parke in Malawi: Majete Wildreservaat en Liwonde Nasionale Park.

Hartmann se navorsingswerk het deel gevorm van ‘n uitgebreide wildbestuur-navorsingsprogram wat oor die afgelope agt jaar deur sy studieleier, Leslie, in Majete voltooi is.

Hartmann het ‘n MSc in bewaringsekologie aan die US oor die sosiale netwerke van olifante gedoen. Daarvoor wou hy die diere dophou, maar was bang hulle gedrag sou verander weens die teenwoordigheid van ‘n mens. Dis iets waarna wetenskaplikes verwys as die sogenaamde “waarnemer-effek”. Die gebruik van ’n hommeltuig toegerus met ’n kamera het gelyk na ’n logiese oplossing – tot hy besef het geen werk is nog gepubliseer met riglyne oor hoe om die taak uit te voer met die minste moontlike invloed op die diere se gedrag nie.

“Verbasend min data oor die impak van hommeltuie op dieregedrag was beskikbaar , hoewel hulle reeds algemeen gebruik word by olifante, byvoorbeeld om hulle aan te jaag sonder mens-dier-interaksie, en vir bevolkingsopnames,” verduidelik Hartmann.

Hy kon slegs ’n handvol verwante studies vind wat die effek van hommeltuie op dieregedrag uiteengesit het. Dié studies is gedoen op swart bere in Kanada, grys- en hawe-robbe, en voëls soos wilde eende en flaminke in vleilande.

Verskeie verslae oor hommeltuie belig wel hul feitlik onbeperkte potensiaal om navorsers toe te laat om wild selfs in die mees onbereikbare plekke waar te neem. Die invloed van hommeltuie op die diere self word egter swak belig, en impakstudies om protokolle saam te stel vir beste praktyke word in die algemeen dringend benodig om die potensiaal vir stres by teikenspesie te beperk, sê Hartmann

“Die protokolle wat in hierdie studie ontwikkel is, kan gebruik word om stres te beperk wanneer hommeltuie in olifantnavorsing gebruik word.

“Met hierdie studie word ‘n betekenisvolle stap geneem om die etiese gebruik van hommeltuie in wildnavorsing te verseker. Die impak van dié tegnologie op ander dieregroepe moet nog ondersoek word. Dit sal ook interessant wees om te bepaal of olifante enige fisiologiese reaksies op hommeltuie het wat mens nie met die blote oog kan sien nie,” sê Leslie.

“Dit sal wonderlik wees om eendag dalk tegnologie soos biologgers te gebruik om te toets of olifante wel spesifieke fisiologiese reaksies het op hommeltuie, soos byvoorbeeld ‘n verhoogde hartklop, wat ons nie noodwendig kan sien deur net hul gedrag dop te hou nie,” voeg Hartmann by.

“Soos nuwer, stiller ontwerpe op die mark kom, sal ’n mens verdere navorsing moet doen om hul impak op olifante te bepaal en die vlug-protokolle daarvolgens aanpas,” sê hy.

*Engela Duvenhage is ’n vryskut-wetenskapskrywer. Die artikel is verskaf deur die US se Fakulteit AgriWetenskap.

Copyright 2022 | All Rights Reserved | Powered by WILD & JAG / GAME & HUNT